Suid-Amerikaner is nuwe pous

Jorge Mario Bergoglio (76) het Woensdagaand voor derduisende mense op die balkon in St. Petrusplein in die Vatikaan sy eerste toespraak gemaak as die nuwe pous.

Bergoglio is van Argentinië en is die eerste pous van Suid-Amerika. Hy sal as Pous Francis bekendstaan. Bergoglio het sy verskyning op die balkon gemaak kort nadat daar Woensdagaand wit rook by die skoorsteen van die Sixtynse kapel uitgekom het. Bergoglio is die 266ste pous in die Rooms-Katolieke kerk se 2 000 jaar bestaan.

Bergoglio is tot pous verkies nadat 115 kardinaals van die Rooms-Katolieke Kerk vir vyf dae in die Sixtynse kapel in die Vatikaan bymekaargekom het. Nie een van die kandidate het tydens die eerste stemming tweederdes van die stemme gekry nie. Die stembriewe is hierna in ʼn spesiale stofie verbrand en het swart rook by die skoorsteen van die Sixtynse kapel uitgeborrel, ʼn teken dat daar nog nie ʼn nuwe pous is nie. Hierna het daar twee keer per dag ʼn stemming plaasgevind totdat Bergoglio die tweederdemeerderheid stemme gekry het en wit rook by die skoorsteen uitgeborrel het.

Die historiese verkiesing kom nadat Pous Benedictus XVI (85) op 28 Februarie sy amp neergelê het. Benedictus XVI was die eerste pous om in die afgelope 600 jaar te bedank en nie in die tuig te sterf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.