Suiwelplaas se roomys-rekordpoging

Die reuse bak sjokoladeroomys

‘n Melkplaas in Iran het Maandag in Tehran ‘n vyf ton bak sjokoladeroomys onthul in die hoop om die Guinness Book of World Records te haal.

Die maatskappy, Choopan, het die reuse bak, wat meer as 2m breed en 1.60m hoog is, by ‘n ski-oord aan die voetheuwels van Tochal, net noord van die hoofstad, uitgestal. Meer as 10 000 mense het dié petalje kom aanskou.

“Ons het die roomys Sondag klaargemaak, maar dit het agt ure lank geduur om die bak vol te maak,” het Khashayar Baheri, hoof uitvoerende beampte van Choopan, aan AFP gesê. “Ons het presies neergeskryf hoe ons die roomys gemaak het en ons sal al dié dokumentasie aan Guinness oorhandig as bewys van ons poging.”

Verteenwoordigers van die Guinness-wêreldrekordboek het die poging in Tehran aanskou, maar kon weens “sekuriteitsredes” nie met die media praat nie.

Die bestaande rekord word deur Baskin-Robbins, ‘n Amerikaanse roomys-kettingwinkel, gehou nadat hulle in September 2005 ‘n bak vanieljeroomys wat 4.02 ton geweeg het, gemaak het.

Die suiwelmaatskappy Choopan, Farsi vir herder, is in 1991 naby Tehran gestig, maar het eers verlede jaar sy reeks roomyse van stapel gestuur. Die maatskappy is glo een van die top drie suiwelvervaardigers in die land en voer ook produkte uit na die Golf en die Midde-Ooste en het planne om ook die Russiese mark te betree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.