Sun City spring staking vry

ʼn Staking om die Nedbank Golftoernooi Donderdag by Sun City te ontwrig, is vermy, het Cosatu gesê.

Solly Phetoe, provinsiale sekretaris van vakbondfederasie Cosatu in Noordwes, het gesê lede het die ooreenkoms wat Dinsdagmiddag tussen Sun International en die vakbond opgestel is, aanvaar. Werknemers sal dus uiteindelik fooitjies ontvang wat tydens 2009 en 31 Oktober 2012 op vakansiedae, naweke en oortyd aan hulle gegee is.

Werknemers wat aan die Cosatu-optogte tussen 31 Oktober en 27 November deelgeneem het en intussen geskors of waarskuwings ontvang het, sal ook weer in diens gestel word.

Werknemers het verlede week gedreig om die Nedbank Golf Challenge, wat Donderdag begin het, te ontwrig.

Phetoe het gesê die ooreenkoms dek nie ʼn dispuut oor die beweerde rassistiese optrede van sekuriteitswagte by die oord in Januarie nie. Dié saak sal afsonderlik hanteer word. Die saak hou verband met die wyse waarop werknemers van die eksterne sekuriteitsmaatskappy, 24/7, glo verdagtes tydens Nuwejaarsdag by die Valley of Waves hanteer het. Volgens Sun International is 20 besoekers in hegtenis geneem nadat ander gaste hulle beskuldig het dat hulle dogters onder die water molesteer het.

Cosatu beskuldig die sekuriteitsmaatskappy dat hulle die verdagtes gemartel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.