Super Rugby: Haaie byt bitter seer

Die Haaie se gesukkel vanjaar om drieë aan te teken is met mening reggestel toe die Piesangboere die besoekende Rebels met tien drieë teen een afgeslag het.

Die eindtelling was 64 – 7. Ook op Nuweland het die Stormers met ‘n bonuspunt-oorwinning oor die Brumbies verseker dat die Suid-Afrikaanse spanne op tuisbodem baas was. Dié drieëfees in die Haaitenk was ten spyte van reën wat ‘n deel van die wedstryd uitgesak het. Hierdeur is afrigter John Plumtree reg bewys wat die snoeiskêr ingelê het en ‘n paar groot name gepos het na die Brumbies die tuisspan verlede naweek afgeknou het. Die Haaie het voorlangs ‘n kragvertoning gelewer maar uiteindelik het die agterspelers self ‘n hele paar keer die doellyn opgesoek. Die Haaie se vorige grootste oorwinning in die Superreeks was verlede jaar toe hulle die Western Force met 53 – 11 kafgedraf het.

Maklik het dit nie op Nuweland gegaan nie. In Aarduur se donkerte het die kwiksilwer Springbok, Gio Applon helder sterretjies gesien toe Fotu Auelua bo-oor hom gehardloop het. Gio is onder pynpolisiebegeleiding van die veld af.
Die Stormers se voorsprong het na lemoentyd in ‘n stadium tot net drie punte gekrimp, maar ‘n vuurwarm Deon Fourie is as impakspeler opgestuur en het nuwe lewe in die tuisspan geblaas. Hoekom Fourie nie in die beginspan is nie, weet nugter. ‘n Onderskepdrie kort voor die einde deur Gerhard vd Heever het nie net die bonuspunt verseker nie, maar ook gesorg dat die Brumbies heeltemal droëbek van die veld moes stap. Dit was die Brumbies se eerste nederlaag dié seisoen terwyl die Stormers hul tweede oorwinning in vier wedstryde behaal het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Die Haaie het maar net teen ‘n middelmatige span gewen maar die Stormers het immers die span in die boonste posisie op die punteleer gewen. Nietemin, veels geluk aan albei spanne.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.