Super Rugby – Klippe kou Doer Onder

Die Cheetahs was die enigste Suid-Afrikaanse span wat die naweek tydens die Australasiese uitstappie kon wen, maar dit het klippe kou gekos om die Western Force onder die knie te kry.

Vroeër vandag het die Crusaders die Kings hul verwagte loesing gegee, maar die Kings se twintig punte en twee drieë wys die manne van die Baai is nie van plan om die reeks se melkkoei te wees nie. Die Crusaders het sewe keer agter die doellyn gaan kuier, en al sewe drieë gekroon in hul opmars om 55 punte op te stapel.

Die Bulle het hierna teen die Reds met die skoen probeer aanval, maar die Reds het twee drieë teen geen gedruk, en die wedstryd met 23 – 18 gewen. Die Bulle kon ‘n enkele bonuspunt oes omdat hulle met minder as sewe punte die onderspit gedelf het. Eers in die doodsnikke het die Bulle getoon hulle kan ook die doellyn aanval, maar JJ Engelbrecht se poging is nie toegeken nie.

Hoewel die Cheetahs uiteindelik teen die einde die knoop deurgehaak het, sou Blikore se ore tuit. Afrigter Naka Drotske het deur die loop van die wedstryd so van frustrasie teen die muur gehamer dat die kommentators bang was hy moker ‘n gat daardeur. Die verdediging het weer eens veel te wense oorgelaat, en in tye van skaars balbesit is die besit boonop weggesool. Hulle was uiteindelik met 19 – 10 baas, maar die grootste Cheetahsondersteuner sal toegee die Force het minstens ‘n bonuspunt verdien. Dit was nogtans die Cheetahs se mees suksesvolle toer na Australasië en hulle het net een van hul vier wedstryde verloor.

Op tuisbodem is daar nog vandag volop Superrugby oor. Die Haaie speel vandag om 17:05 met ‘n kwaai versoolde span teen die Rebels, en om 19:10 speel die Stormers teen die Brumbies. Die Haaie kon tot dusver in die reeks net twee drieë aanteken, wat hul Kiwi-afrigter John Plumtree glad nie beïndruk het nie. Meyer Bosman moet nou van binnesenter af sy snellers in die gapings in lanseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.