Super Schoenmaker inspireer met silwer medalje

Só ’n prestasie verdien ’n groot glimlag! Tatjana Schoenmaker met haar silwer medalje. Foto: Anton Geyser/SASP/SASI

Penny Heyns het vroeër voorspel dat Tatjana Schoenmaker met ’n medalje of twee van die Olimpiese Spele in Tokio sal terugkeer. En die gouemedaljewenner van die 1996-Spele in Atlanta se profesie is inderdaad vanoggend bewaarheid.

Die 24-jarige Schoenmaker het vandag die eerste vrou in twee dekades – ná Heyns se daaropvolgende heldedade in Sydney – geword om ’n medalje vir Suid-Afrika in die swembad te wen. Die meermin van Tukkies se tyd van 1:05:22 in die eindronde van die 100 m-borsslagitem was goed genoeg om die silwer medalje in te oes.

Die Amerikaanse tienersensasie, Lydia Jacoby (17), was eerste met haar wentyd van 1:04:95, terwyl Lilly King – die verdedigende Olimpiese kampioen – derde geëindig het.

“As land gaan Suid-Afrika tans deur ’n moeilike tyd en ek hoop my vertoning sal vir Suid-Afrikaners wys dat niks onmoontlik is nie,” het Schoenmaker gesê.

In ’n stadium het dit gelyk asof Schoenmaker met die louere gaan wegswem – ’n verstommende prestasie as daar in ag geneem word dat die 100 m-item nie haar aanvanklike hoofdoelwit van die Spele was nie.

Maar Jacoby het met ’n briljante eindpoging vorendag gekom om as Olimpiese kampioen gekroon te word.

Die skerm vertel die storie. Foto: Twitter.

“Ek kla hoegenaamd nie oor die uitslag nie. Goeiste, ek het dan ’n Olimpiese medalje en dit was ongelooflik om teen die wêreld se voorste swemmers kragte te meet.”

Schoenmaker wen deesdae ’n medalje by al wat ’n groot byeenkoms is; ’n merkwaardige prestasie wat ook daarop dui dat sy ongetwyfeld die drukkoker kan hanteer.

Selfs toe die Spele weens die wêreldwye Covid-19-pandemie met ’n jaar uitgestel is, is sy nie van stryk gebring nie.

“Vir 15 jaar het ek daarvan gedroom om by die Olimpiese Spele in aksie te wees en 2020 sou uiteindelik die jaar gewees het. Maar aan die ander kant, gaan ’n jaar werklik só ’n groot verskil maak? Dit gee vir my eintlik meer tyd om aan my vaardighede te skaaf, terwyl my ondersteuningspan fantasties is; om ’n jaar langer te wag is eintlik voordelig,” het sy destyds gesê.

En met die 200 m-borsslagitem wat voorlê, kan Schoenmaker ongetwyfeld Suid-Afrika se nuwe goue meisie in die swembad word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Frank ·

Ai, haar uitdun het sy afgelê is 1:04,82 en die Olimpiese rekord gebreek.
Tweede is egter steeds BRILJANT!! Geluk!!!

Frank ·

Jacoby is van Alaska (USA) af, terloops. Leer seker maar vinnig swem met al die ysbere daar…..

Elmarie ·

WAs SOOO trots en kyk hoe mooi glimlag sy. Sweetpak ook BAIE mooier en netjieser as die aaklige oorgroot goed van vorige spele, dankie MR Price! Nou vir jou EINTLIKE nommer Tatajana, bring daai goue ene!

piet ·

Ek het wragtig gedink sy gaan wen met nog 5 meter oor. Toe kom die jong Amerikanertjie met ‘n verstommende eindpoging. Jammer ons het nie goud hier gekry nie, maar daai Amerikaner het dit uit en uit verdien met ‘n fantastiese poging. Tog, as ons meisie dieselfde tyd geswem het as in haar uitdun het sy gewen. Hier het ons nou weer die geval gehad van die beste hou vir laaste, maar helaas….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.