Super15: Swak besluite lewer verrassings op

Soos verlede week geen verrassings opgelewer het nie, het hierdie week wel sy kwota verrassings gehad.

Die Stormers kan hulle vandag self skop oor die swak besluite wat gemaak is toe hulle die wedstryd teen die Blues met een punt verloor het. Daar was geleenthede om pale toe te skop wat nie geneem is nie.

As jy as kampioen gekroon wil word is die eerste prioriteit om die wedstryd te wen. Daarna kan gekyk word na bonuspunte en hoe om dit te bereik.

Die beleid is duidelik deur die Brumbies toegepas. Toe dit duidelik word dat hulle nie die wedstryd gaan wen nie, het hulle die strafskop pale toe geneem om sodoende ‘n bonuspunt te behaal.

Op die lang duur teen die einde van die reeks kan dit dalk ‘n groot rol speel om die tuisveldvoordeel te bewerkstellig. Dit was nie die laaste groot verrassing vir die naweek nie.

Dan Carter se terugkeer het ‘n verskil gemaak vir die Crusaders en veral sy taktiese skopwerk was uit die boonste rakke. Dit het die Brumbies op die agtervoet geplaas. Die Crusaders het een van die mooiste drieë gedruk toe hulle oor die lengte van die veld beweeg het vir Israel Dagg om aan die ander kant oor te val vir sy drie. Een van die bestes vir die naweek.

Die Crusaders sou graag die bonuspunt wou behaal want hulle het nog ‘n steil paadjie om te klim om in die uitspeelrondtes betrokke te raak. Die Crusaders is egter ‘n oudkampioen en sal altyd n bedreiging vir die ander spanne bly, al het hulle swak afgeskop in die huidige seisoen.

Die volgende verrassing was die Force wat gelykop teen die Reds gespeel het. Toegegee die Force het met mening gespeel en die Reds was bra loodvoetig, maar die verskil tussen die spanne is so groot dat die Reds met gemak moes gewen het.

Soos vantevore gesê, wedstryde word voor die tyd in die kleedkamer gewen of verloor. Verstaan my nie verkeerd nie, geen span sal doelbewus op die veld draf met die doel om te verloor nie. Dit gaan oor die ingesteldheid teenoor die teenstanders wat soos ‘n suurdeeg deur werk in die gemoed van die spelers en daar is byna niks wat die afrigter daaraan kan doen nie (vra my, ek het eerstehandse ondervinding daarvan).

Volgende naweek sal al die spanne wat so onverwags teenspoed opgetel het, weer hul ou self wees en behoort die kompetisie redelik voorspelbaar te wees.

Die Highlanders het besluit die Sharks sal hul eerste oorwinning vir die jaar wees en hulle het ook so gespeel. Die Sharks was net nie goed genoeg op die dag nie en hoewel hulle hard probeer het was dit nie genoeg nie. Swak besluitneming deur Keegan Daniel het daartoe bygedra.

Met ‘n betroubare skopper soos Lambie moet elke skop pale toe geneem word. Eers die oorwinning en dan die bonuspunte.

Ter verdediging van die Sharks kan genoem word dat hulle beseringslys die langste van al die spanne is. Diepte in al die posisies is van allergrootste belang as jy wil saamgesels. Helaas die Sharks gesels nie meer saam nie.

Die Rebels se vurige vertoning het byna ‘n stok in die wiel van die Chiefs gesteek, maar gelukkig het die Chiefs ‘n welverdiende weg oorwinning behaal.

Die Waratahs het die Kings ‘n rugbyles geleer wat hulle nie gou sal vergeet nie. Geen span kan met die krummels van balbesit op die aanval uitblink nie en ‘n mens het die Kings op n stadium begin jammer kry. Die passie het dié keer ontbreek en die Kings het byna beteuterd gelyk in hul poging om iets aan die siedende aanvalle van die Waratahs te doen.

Die laaste wedstryd van Saterdagaand was die Hurricanes op Fort Loftus. Die Bulls het verspot maklik oor die Hurricanse gehardloop en twee onderskepdrieë het die Canes na ‘n ligte briesie laat lyk.

Die oorheersing van die voorspelers was so erg dat Dean Greyling, terugkerende voorryman van die Bulls, as die speler van die wedstryd aangewys is.

Volgende naweek se wedstryde behoort weer volgens die logpunte te verloop met die Stormers wat hopelik die terugkerende Waratahs op Sydney kan verras.

Die Blitzbokke het Nieu-Seeland in die seweseindstryd in Glasgow, Skotland, in ‘n goeie eindstryd met 28-21 geklop. Dit was ondanks beserings aan twee sterspelers, Cecil Africa en Branco du Preez, wat nie eens die toernooi bygewoon het nie.

Gelukkig het SA baie talent en Seabelo Senatla is ‘n naam wat nog baie gehoor gaan word in die toekomstige sewestoernooie. Seabelo is geseënd met baie spoed en as hy eers deur die gaping is, is daar punte.

Ons wens ons Blitzbokke alle voorspoed toe vir die finale toernooi in London op Twickenham.

Rugbygroete tot volgende week

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.