SuperSport-aanbieder in hof oor beweerde ‘seksdaad’

ʼn Bekroonde SuperSport-aanbieder het vlugtig in die Johannesburg landdroshof verskyn op aanklagte dat hy homself ontbloot het en voor ʼn minderjarige seun gemasturbeer het, berig die Star.

Die aanbieder het Woensdag in die hof verskyn, ure voor hy ʼn program op SuperSport moes aanbied. Die sportkanaal sê in ʼn verklaring die aanbieder is by onderlinge ooreenkoms van sy pligte onthef, hangende die uitkoms van ʼn ondersoek na die bewerings teen hom. Die man se naam mag volgens wet nie bekendgemaak word voor hy in die hof gepleit het nie. ʼn Hoërskool-seun beweer hy het die sauna by die Randburg Virgin Active gimnasium binnegegaan waar hy die aanbieder en nog ʼn man sien gesels het. Die ander man het glo die vertrek verlaat waarna die 46-jarige aanbieder glo sy bene oopgemaak het en homself aan die minderjarige ontbloot het. Die aanbieder het glo hierna die minderjarige na die stort gevolg waar hy voor hom gemasturbeer het. Die voorval het glo reeds in Julie vanjaar plaasgevind. Die saak is uitgestel tot 18 Oktober. Volgens mediaberigte is Peter Davies by SuperSport afgedank. Dit kom kort nadat SuperSport ʼn maand gelede die aanbieder, Darren Scott, gepos het nadat hy glo tydens ʼn werksfunksie by Jacaranda 94,2, waar hy ook ʼn aanbieder is, die K-woord toegesnou het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.