SuperSport-man sterk aan ná aanval by rugbywedstryd

Jacques van Schalkwyk (44), ‘n regisseur van SuperSport, wat oor die naweek glo by Vodacompark in Bloemfontein aangeval is, was tydens die aanval glo saam met ‘n ander man se vriendin.

André Knipe (48), ‘n sakeman van Bloemfontein, het Dinsdag vlugtig in die landdroshof in Bloemfontein verskyn in verband met die voorval. Van Schalkwyk was die regisseur van die buitelug uitsending van die wedstryd Saterdag tussen die Cheetahs en die Westelike Provinsie.

Knipe se meisie het glo na die wedstryd verdwyn terwyl hulle in een van die losies by die stadion gekuier het, berig Beeld. Toe Knipe ‘n sekuriteitswag vra of hy sy meisie gesien het, het hy gehoor dat “hulle” in die badkamer vir gestremde persone is. Knipe het sy meisie glo in die badkamer saam met Van Schalkwyk opgespoor waarna ‘n argument en ‘n fisiese onderonsie gevolg het.

Esmarie Cronjé, ‘n woordvoerder vir die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein, het gesê Van Schalkwyk is in ‘n bevredigende toestand nadat hy ‘n operasie vir ‘n geskeurde blaas ondergaan het.

Volgens Cronjé het Van Schalkwyk dit duidelik gemaak dat hy nie oor die voorval wil praat nie. “Nie vandag nie, nie môre nie, nooit nie,” het Van Schalkwyk glo gesê.

Volgens Beeld kan Van Schalkwyk nie veel van die aanval onthou nie, en dat hy nie sy aanvaller gesien het nie. Hy het vroeër glo gesê hy het ’n vriendin in die gang gegroet toe iemand uit die niet verskyn en hom katswink geslaan en daarna geskop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.