Survivor-deelnemer sterf tydens verfilming

Gerard Babin Foto: bangkokpost.com

Verfilming aan die Franse weergawe van die gewilde televisiereeks, Survivor, is gekanselleer nadat ʼn deelnemer op die eerste dag aan ʼn hartaanval op ʼn tropiese eiland van Kambodja gesterf het.

TF1, die Franse uitsaaier, het gesê die 2013-seisoen van die reeks, genaamd “Koh Lanta” is gekanselleer nadat Gerald Babin (25) Vrydag tydens verfilming siek geraak het. Hulle het op die eiland Koh Rong, aan Kambodja se suidwestelike kus, verflim.

Volgens Adventure Line Productions, wat die reeks vir TF1 verfilm het, het Babin tydens een van die uitdagings vir die deelnemers van krampe gekla en het hy noodbehandeling van die reeks se dokter ontvang. Dit is nog nie duidelik wat die uitdaging was waarmee hulle besig was nie. Babin is met ʼn helikopter na ʼn nabygeleë hospitaal geneem, maar het later gesterf. Volgens die polisie in Kambodja is daar geen verdagte omstandighede nie. “Daar sal geen verdere ondersoek wees nie. Hy het aan ʼn hartaanval gesterf,” het Kol Phally, adjunkhoof van die plaaslike polisie, gesê.

Thong Khon, minister van toerisme in Kambodja, het gesê die televisiespan het beplan om sowat vyf maande lank daar te spandeer. “Die deelnemers is reeds huis toe,” het hy Dinsdag aan AFP gesê. “Babin se gesinslede het ook reeds in Kambodja aangekom om sy liggaam te kom haal.”

Babin het glo, volgens TF1, net soos die ander deelnemers ʼn mediese ondersoek ondergaan toe hy gekies is om aan die program deel te neem.

Die televisiereeks Survivor is al in talle lande aangebied. Deelnemers van regoor die land bly 40 dae lank in ʼn wildernis-omgewing en moet self sorg vir hulle slaapplek en etes. Hulle ding tydens verskillende uitdagings teen mekaar mee vir pryse en geld. Die wenner van elke reeks ontvang $1 miljoen.

In 2009 is ʼn 53-jarige deelnemer tydens die Bulgaarse weergawe van die program tydens verfliming in die Filippyne dood aan ʼn hartaanval. ʼn 32-jarige deelnemer aan die Pakistani-weergawe het in dieselfde jaar in Thailand verdrink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.