Suster dreig om boetie te skiet

Gyselaar-onderhandelaars van die polisie het Woensdagmiddag verhoed dat ʼn 22-jarige suster haar 12-jarige boetie in Stilfontein, naby Klerksdorp, skiet.

Volgens Luitenant-kolonel Lungelo Dlamini, ʼn provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 14:00 plaasgevind nadat die seun van die skool af gekom het.

“Die seun was in die huis toe sy suster hom gyselaar geneem het,” het Dlamini gesê. “Sy het gedreig om hom dood te maak met hul ma se geweer. Hul ouers was by die werk toe die voorval plaasgevind het. Gelukkig was hul ouer broer, wat 28 jaar oud is, by die huis en het hulp ontbied,” het hy bygevoeg.

Die polisie was 10 minute later op die toneel en het met onderhandelinge begin. Teen 15:10 het hulle haar oortuig om die seun te laat gaan, sy het haarself ook oorgegee.

Die seuntjie is ongedeerd. Sy suster is onder polisie-aanhouding na ʼn hospitaal geneem. Sy lei glo aan depressie. Sy gaan van poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen aangekla word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.