Susters glo dieselfde aand deur polisielede verkrag

Die motoris wat glo deur twee polisiebeamptes verkrag is, se jonger suster is glo dieselfde aand ook verkrag.

Maroela Media het vroeër berig dat twee polisiebeamptes in die hof verskyn het nadat hulle glo ʼn vrou in Fourways in Johannesburg verkrag het. Die vrou is na bewering verlede Vrydag deur die twee beamptes van die pad af getrek. Die beamptes het haar van die voorste sitplek na die agterste sitplek getrek waarna hulle haar glo om die beurt verkrag het. Intussen berig EWN dat dié vrou en haar suster, albei in hulle 20’s, laataand op pad huis toe was van ʼn partytjie toe die voorval plaasgevind het. Die susters is na bewering deur die polisie afgetrek en hoewel hulle gedrink het, het die polisie hulle glo laat ry. Die ouers suster het haar jonger suster by die huis afgelaai voor sy na haar eie huis vertrek het. Dit is toe dat sy na bewering vir ʼn tweede keer deur die polisie van die pad af getrek is en deur die beamptes verkrag is. Die jonger suster het glo besef dat sy haar sleutel by die partytjie gelos het en het na bewering in die pad begin afhardloop om haar suster te probeer keer om weg te ry. Twee mans in ʼn rooi Opel het haar toe glo verkrag. Daar word vermoed dat die jonger suster ook dalk deur polisiebeamptes verkrag is. Die polisie ondersoek die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.