Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku dat wydverspreide swaar reën die naweek oor groot dele van die land kan voorkom en moontlik tot oorstromings kan lei.
Die SAWD sê swaar reën word vanaf laat Vrydagmiddag oor Noordwes, Gauteng, die oostelike dele van die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga verwag. Die swaar reën sal na verwagting tot Sondag voortduur. Volgens die weerdiens is daar ʼn groot moontlikheid van oorstromings in Mpumalanga en Limpopo aangesien daar reeds swaar reën in die provinsies geval het en verskeie riviere al vol is. Die SAWD het die publiek gemaan om nie riviere of stroompies wat in vloed is per voet of motor te probeer oorsteek nie. Volgens die weerdiens sal Botswana, Zimbabwe, Swaziland en die suidelike dele van Mosambiek ook onder swaar reën deurloop.