Swaar reënval: Wenke om in nat weerstoestande te bestuur

Argieffoto.

Argieffoto.

Dial Direct-versekeringsmakelaars het Dinsdag gesê dit verg uiterste versigtigheid om in nat weer te bestuur en motoriste moet hul bestuursgewoontes aanpas. Die Suid-Afrikaanse Weerburo het ʼn waarskuwing van swaar reënval en vloede uitgereik. Lees meer hier.

“Paaie word baie glad wanneer dit reën, so motoriste moet hulle bestuurstyl, spoed en volgafstand aanpas en voorbereid wees op noodsituasies,” het John October, woordvoerder van die maatskappy, gesê. “Dit is uiters belangrik dat motoriste sal seker maak hul voertuie is in ‘n goeie toestand om doeltreffend in slegte weersomstandighede te presteer.”

October maan motoriste om geduldig en rustig te wees. “Verwag, en wees voorbereid op vertragings op die pad in slegte weerstoestande. Probeer om geduldig te wees en laat ekstra reistyd toe. Luister ook na die verkeersverslag op ‘n streeksradiostasie vir inligting oor vloede en ongelukke wat die paaie beïnvloed. Indien jou roete hierdeur geraak word, vind ‘n alternatiewe roete of bly net waar jy is totdat dit veilig is”, sê hy.

Hy bied die volgende natweer-bestuurswenke:

  1. Skakel altyd jou voertuig se hoofligte aan wanneer jy in nat weer ry.
  2. Gebruik die helderste verstelling van jou motor se agterligte om jou meer opsigtelik vir voertuie agter jou te maak.
  3. Gaan jou ruitveërs na en maak seker dat hulle in ‘n goeie toestand is om die windskerm behoorlik skoon te vee vir maksimum sigbaarheid.
  4. Vermy die opbou van wasem aan die binnekant van jou motor se ruite en vensters omdat dit sigbaarheid baie beperk. Gebruik die teenwasemstelsel of maak jou venster op ‘n skrefie oop.
  5. Maak seker dat daar genoeg loopvlak op jou bande oor is. Dit minimaliseer die risiko dat jou motor op die wateroppervlak sal gly. Hoewel die wet in Suid-Afrika ‘n minimum van 1mm loopvlak vereis, sal ‘n loopvlak van onder 3mm die kanse vir gly aansienlik verhoog.
  6. Verslete skokbrekers verhoog ook die kans dat jou motor sal gly, selfs met die beste bande. Dit beperk ook die vermoë van anti-sluitremstelsels (ABS) om effektief te funksioneer.
  7. Bewolkte en reënweer lei tot slegte sigbaarheid, so wees ekstra versigtig wanneer jy ander voertuie verbysteek. Sproei van ander voertuie se bande verlaag sigbaarheid drasties.
  8. Pas jou spoed en volgafstand aan om te verseker dat jy veilig binne die sigbare area voor jou kan stop. Jou motor het ‘n groter afstand nodig om te stop op nat paaie. Laat minstens 4 tot 8 sekondes toe tussen jou motor en die voertuig voor jou.
  9. Vermy om skielik rem te trap, skielike versnelling en stuurbewegings. Skielike aksies kan daartoe lei dat jou kar gly.
  10. Moenie deur oorstroomde gebiede ry as jy nie seker is dat die water onder die rand van die wielvelling is nie. Indien jy enigsins twyfel, moenie deur die water probeer ry nie, vind verkieslik ‘n ander roete.
  11. Indien jy geen ander keuse het as om deur ‘n gebied met hoë watervlakke te ry nie, ry stadig in ‘n lae rat terwyl jy die stuurwiel ferm stut.
  12. Nadat jy ‘n rukkie lank in swaar reën gery het sonder om die remme te gebruik, trap die remme liggies om hulle droog te maak, veral wanneer jou motor drom-remme het.
  13. Indien daar ‘n fout ontstaan met jou motor, skakel jou noodflikkerligte dadelik aan en beweeg heeltemal van die pad af. Indien moontlik, maak seker dat jy ‘n weerkaatsende driehoek het wat jy op ‘n voldoende afstand agter jou voertuig kan plaas om aankomende motoriste te waarsku.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lana ·

Wat is die teenwasemstelsel wat na verwys word. Ek sit die aircon in die kar aan,maar die ruit wasem buite. Wat doen ek verkeerd?

Jasper ·

Gebruik eerder die warm lug. Lugvog van buite kondenseer teen die ruit wat jy met jou “aircon” afgekoel het. Net soos die koue glasbottel wat jy uit die yskas haal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.