Met nóg nat en koue weer op pad, het verkeersowerhede motoriste gemaan om versigtig te wees nadat weersomstandighede Donderdag die dood van vier mense in Mpumalanga veroorsaak het.
Maroela Media het gister berig swaar weer het na bewering die dood van vier mense in twee afsonderlike ongelukke op die N4-deurpad naby Middelburg, Mpumalanga, veroorsaak.
In die eerste ongeluk is twee mense dood en ʼn ander kritiek beseer ná ʼn botsing reg van voor naby die Hendrina-afrit. Albei die bestuurders van die twee voertuie is op slag dood. ʼn Passasier van een van die voertuie is in ʼn kritieke toestand na die Middelburg-hospitaal geneem.
Die tweede ongeluk het omstreeks 18:00 op die deurpad plaasgevind. Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het sowat 12km buite Middelburg plaasgevind. ʼn Toyota Tazz en ʼn swaarvoertuig, wat ʼn vrag staal vervoer het, het ook trompop gebots. “Die Tazz is onder die trok verkrummel. Die bestuurder en ʼn passasier van die Tazz is op slag dood. Hul liggame moes uit die wrak gesny word,” het Jackson gesê.
“Hoewel die oorsake van die ongelukke nog nie vasgestel is nie en volledig ondersoek moet word, wil dit voorkom asof dit weens buitengewone weerstoestande veroorsaak is. Die weer het onder andere veroorsaak dat die pad vol water en baie glad was,” het sy gesê.
TRAC, die N4-deurpad se konsessiehouer, het gewaarsku dat mis en reën op die hoofroete tussen Pretoria en Mosambiek sigbaarheid beïnvloed en motoriste moet uiters versigtig wees.