Swakste werkgewers, beste werknemers van die jaar

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het Solidariteit se toekenning vir swakste werkgewer van die jaar met lof gewen, het die vakbond vandag aangekondig. Solidariteit vereer ook die werknemers wat vanjaar tydens die onrus in die mynbedryf getrou aanhou werk het, terwyl die minister van landbou, bosbou en visserye, Tina Joemat-Pettersson, ʼn toekenning as swakste hoof van die jaar losgeslaan het.

Dié toekennings vorm deel van die vakbond se jaarlikse pryse in die kategorieë werkgewersaansporing vir goeie prestasie, werknemers van die jaar, swakste hoof van die jaar en swakste werkgewer van die jaar. Drie spesiale werkgewerspryse is ook toegeken.

Volgens Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, is die toekennings ʼn aanwyser van hoe maatskappye teenoor veral hul werknemers opgetree het. Kruger beklemtoon dat daar in 2012 sterk mededinging in al die kategorieë was. “Die besluit om die DKD as swakste werkgewer aan te wys, was egter voor die hand liggend,” verduidelik hy.

Solidariteit het vroeër vanjaar hofstukke namens vyf van sy lede in ʼn saak teen die DKD by die arbeidshof in Kaapstad ingedien oor die departement se omstrede regstellendeaksie-plan. Solidariteit voer aan dat die DKD se blatante beleid van absolute verteenwoordiging onbillik, irrasioneel en onwettig is. Volgens die DKD se regstellendeaksie-plan moet die nasionale rassedemografie in elke werksplek, selfs op provinsiale en streeksvlak, weerspieël word. Gevolglik het wit – en veral bruin – werknemers in die Wes-Kaap byna geen kans meer op bevordering en aanstellings nie.

Die ander nominasies in dié kategorie was Absa en Cell C vir hul koue en kliniese afleggingsprosesse vroeër vanjaar asook Woolworths, nadat die groep nie advertensies vir poste waarvoor slegs swart kandidate oorweeg sou word, teruggetrek het nie.

Die werknemers van die jaar-toekenning is vanjaar aan die werknemers in die mynbedryf wat nié aan onwettige stakings deelgeneem het nie, toegeken. Hierdie werknemers het getrou bly werk ten spyte van dreigemente en intimidasie van hul stakende kollegas tydens die grootskaalse onrus in die mynbedryf. “Dit is danksy hierdie werknemers in die mynbedryf wat verantwoordelik en getrou aanhou werk het, dat veiligheidstandaarde by talle myne in ʼn groot mate onderhou kon word sodat werksaamhede by die werksplekke veilig hervat kon word ná die stakings,” sê Kruger.

Die vakbond het ook alle nooddienspersoneellede en lewensredders asook werknemers van private sekuriteitsdienste vir dié toekenning genomineer. “Hierdie werknemers plaas regdeur die jaar, maar veral in vakansietye, dikwels hul eie lewens op die spel om vreemdelinge te hulp te snel en veral werknemers van private sekuriteitsdienste speel ’n groot rol om ons misdaadgeteisterde land te help beveilig.”

In die kategorie van werkgewersaansporingsprys vir goeie prestasie is die mynmaatskappy, Anglo Gold Ashanti en die bankreus, FNB genomineer. Anglo Gold Ashanti het met die louere weggestap. “Hierdie werkgewer is onder groot en kleiner vakbonde bekend as ’n baie deursigtige en konsulterende werkgewer. Die feit dat die werkgewer hom nie laat intimideer nie en streng by sy dissiplinêre kodes en bestaande ooreenkomste hou, is ’n teken van sterk leierskap en dít is wat nodig is om weer stabiliteit in die bedryf te bring,” het Kruger benadruk.

Daar was vier uiters sterk kandidate vir die titel as swakste hoof van die jaar. Die uitvoerende hoof van Absa, Maria Ramos, die minister van handel en nywerheid, Rob Davies, die minister van landbou, bosbou en visserye, Tina Joemat-Pettersson en die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, was die mededingers in dié kategorie. Joemat-Pettersson is as 2012 se swakste hoof aangewys weens die besteding van bykans R1,6 miljoen aan hotelkoste die afgelope twee jaar. Intussen het sy vroeër vanjaar ook vir ’n groot groep plaaswerker-stakers in die Boland in die bresse getree nadat hulle skade van ’n geskatte R120 miljoen in dié gebied aangerig het. Joemat-Pettersson het kapsie gemaak teen die vervolging van indiwidue wat hulle aan dié misdade skuldig gemaak het.

Drie toekennings is gemaak in die kategorie van spesiale werkgewers. Die Lang-vingers-toekenning is gemaak aan die departement van gesondheid wat nie net onder grootskaalse korrupsie deurloop nie, maar boonop in gebreke bly om diensverskaffers vir noodsaaklike dienste en onderhoudwerk te vergoed. Die Skiet-jouself-in-die-voet-toekenning is intussen aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gegee omdat hulle nagenoeg 70 poste vakant gelaat het weens regstellende aksie. Laastens is die Kom-en-gaan-toekenning aan Telkom gegee. Pinky Moholi het in November bedank en is die vyfde uitvoerende hoof van Telkom wat die afgelope paar jaar bedank het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.