Swanger vrou beseer in kettingbotsing

ʼn Swanger vrou en twee mans is Saterdag beseer nadat drie swaarvoertuie en drie voertuie in ʼn kettingbotsing naby Kroonstad betrokke was.

Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, sê die ongeluk het omstreeks 12:00 op die N1-snelweg tussen Kroonstad en Ventersburg plaasgevind.

“Dit wil voorkom of een van die vragmotors nie betyds kon stilhou by ʼn gedeelte van die pad wat onder konstruksie was nie. Stop-en-ry-beheer is by dié gedeelte van die pad toegepas,” het Jackson gesê.

Volgens Jackson moes een van die vragmotorbestuurders uit die kajuit van sy voertuig se wrak gesny word. Hy is later met ʼn ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Die swanger vrou is op die toneel gestabiliseer en met ʼn ambulans na ʼn hospitaal in Welkom geneem vir verdere behandeling.

ʼn Ander vragmotorbestuurder het geringe beserings opgedoen en is ook in ʼn hospitaal opgeneem.

Die res van die mense wat in die botsing betrokke was, het geringe beserings opgedoen en is nie in ʼn hospitaal opgeneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.