‘n Swanger vrou is dood nadat sy deur ‘n motor omgery is op Beyers Naude-rylaan in Honeydew, Johannesburg.
ʼn Woordvoerder van ER24, Derrick Banks, sê die vrou is Woensdagaand deur die motor omgery. “Die vrou het in die pad gelê terwyl die motor wat haar omgery het verder in die pad af gestaan het. Sy was agt maande swanger.” Banks sê die vrou het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Haar ongebore baba is ook op die toneel dood verklaar. Banks sê die bestuurder van die motor het ligte beserings opgedoen in die ongeluk.