Swart Dinsdag: Media wil keer dat regering hul monde snoer

Verskeie menseregtegroepe en mediahuise sal protes aanteken teen die omstrede wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting (WBS) wanneer parlementslede Dinsdag ʼn stem daaroor moet uitbring in die Nasionale Vergadering (NV).

Yusuf Abramjee, voorsitter van die nasionale persklub (NPC), het gesê dat dié dag die “begin is van ʼn swart dag vir vryheid van spraak, vryheid van uitdrukking en persvryheid.

“Ons het duisende boodskappe regoor Suid-Afrika ter ondersteuning ontvang en dit is nou hoog tyd dat ons ʼn baie duidelike boodskap aan die regering stuur dat ons nie net agteroor sal sit en kyk hoe ons grondwetlike regte geskend word nie,” het Abramjee gesê.

“Sommige politieke partye, talle nie-regeringsorganisasies (NGO’s), die Right2Know-veldtog en Suid-Afrika se Nasionale Redakteursforum (Sanef) het reeds hul ondersteuning aan ‘Swart Dinsdag’ aangetoon.” Die NPC het mense gevra om hul ondersteuning te toon deur swart aan te trek, ʼn swart lint te dra of om ʼn swart bandjie om hul arm te bind. Die NPC het die veldtog ‘Swart Dinsdag’ gedoop na aanleiding van ‘Swart Woensdag’ wat op 19 Oktober 1977 plaasgevind het toe die Apartheidsregering The World, Sunday World die Christelike publikasie Pro Veritas asook bykans 20 mense en organisasies wat verbind was aan die swartbewussynsbeweging verban het.

Die ANC se parlementêre koukus het die ‘Swart Dinsdag’-protesveldtog as ʼn ‘verdraaiing van feite’ afgemaak. “Die enigste resultaat van hierdie stomme vergelyking en beplande veldtog waar mense versoek word om swart aan te trek, sal wees dat die ware geskiedenis van ‘Swart Woensdag’ verwater en die slagoffers van apartheid se barbaarse wetgewing beledig,” het Mathole Motshekga, die ANC se hoofsweep Maandag gesê.

Abramjee het gesê dat die NPC die ANC se besware in ag sal neem. “Hulle ervaar druk en probeer nou die kwessie omseil deur die persklub te beskuldig,” het hy gesê. “Hulle probeer ook die WBS verdedig… jy kan nie die onverdedigbare verdedig nie.”

Die NPC versoek die regering om die geskeduleerde stemmery uit te stel.

Indien die wetgewing voortgaan sal die media nie in staat wees om aanspraak daarop te maak dat hulle in belang van die publiek opgetree het, indien hulle ʼn wet oortree, of deelneem aan die oortreding van ʼn wet of geheime inligting publiseer om ʼn verslag te staaf wanneer hulle byvoorbeeld wanpraktyk of korrupsie in die regering uitwys nie.

Die Agentskap vir Staatsveiligheid (SSA) het gesê dat bewerings dat die wetsontwerp tot sensuur en ʼn nuusverbod kan lei is sensasioneel. “Dit is nie so dat daar ʼn massa klassifikasie van inligting sal wees nie, aangesien die wetsontwerp spesifiek na nasionale sekuriteitsdepartemente verwys,” het Brian Dube, woordvoerder vir die SSA in ʼn verklaring gesê. “Om te sê dat die WBS deur sensuur en ʼn verbod op inligting gekenmerk sal word, is sensasie op sy ergste.”

Die Right2Know-veldtog organiseer ses protesaksies regoor die land insluitend een by die parlement om die voorgestelde wetsontwerp teen te staan.

Aartsbiskop Emeritus Desmond Tutu het Maandag gesê dat die wetsontwerp gebrekkig en beledigend is. “Dit is ʼn belediging vir alle Suid-Afrikaners om wetgewing bloot te aanvaar wat onthullings en ondersoekende joernalistiek onwettig kan verklaar… en wat die regering slegs aan die regering verantwoordbaar sal maak,” het hy in ʼn verklaring gesê.

Tutu het gesê dat hy ʼn beroep op alle LPs doen om die teenreaksie wat die wetsontwerp reeds veroorsaak het, te erken. “Luister asseblief na die waarskuwings van die akademici, leiers van die burgerlike samelewing, arbeidsverteenwoordigers, mediakorps en wets- en grondwetskenners,” het hy gesê. “Hierdie wetgewing sal ons land en ons mense ʼn ondiens bewys.”

Kyk ook na die video hier, lees Herman Toerien se bydrae hier en Reint Dykema se bydrae hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.