“Swart mense slegter daaraan toe as gedurende Apartheid,” sê Malema

Julius Malema

“Swart mense is nou slegter daaraan toe as gedurende die Apartheidsjare,” het Julius Malema, geskorste leier van die ANC-jeugliga, Donderdag gesê.

“Ons is slegter daaraan toe as tydens Apartheid. Ons word deur ons eie mense doodgemaak. Ons word deur ons eie regering onderdruk,” het Malema aan Aurora-mynwerkers in Grootvlei, Springs, gesê. Meer as 1 000 mynwerkers van die gelikwideerde Aurora Empowerment Systems en naburige Gold One het opgedaag om na Malema te luister. Malema sê politici kan nie die werkers help nie, aangesien hulle voordeel uit die myne getrek het en aandele daarin gehad het. “Elke myn het ‘n politikus in die binnekring. Hulle ontvang maandeliks geld, hulle noem dit aandele. Maar dit is ‘n beskermingsfooi om die wit mense teen die werkers te beskerm,” het hy gesê.

Hy het gesê die feit dat die Aurora-krisis vier jaar lank aangehou het, dui daarop dat daar geen leierskap in die land is nie. Aurora Empowerment Systems het die myne gekoop toe die vorige eienaar, Pamodzi Gold, bankrot gespeel het. Sedertdien het die werknemers nog nie salaris ontvang nie en is die myne van sy bates gestroop.

“As daar leierskap in die land was, sou dit nie vier jaar lank geduur het nie. Vier jaar dui daarop dat daar geen leierskap is nie. Wanneer hulle (politici) opdaag om julle te verteenwoordig, ontvang hulle geld en dan vergeet hulle van julle,” het hy bygevoeg.

Malema het die werkers aangeraai om ‘n komitee op die been te bring om met prokureurs te gesels sodat hulle klagtes aan die likwidateurs van Aurora gerig kan word. Hy het die “begin van die rewolusie in die mynsektor” aangekondig.

“Ons gaan ‘n mynrewolusie in die land inlei. Ons gaan na elke myn toe gaan. Ons gaan die myne onregeerbaar maak totdat die boere na die tafel toe kom,” het hy gesê. “Hulle moet julle ‘n minimumloon van R12 500 gee. Hierdie mense kan R12 500 bekostig. Mynbou in Suid-Afrika beloop triljoene rande.”

Sowat 5 000 mense is werkloos gelaat by Aurora. Die myn is tans onder likwidasie.

Die voornemende kopers van Aurora-myne, Gold One, het glo meer as 1 500 werkers afgedank wat gestaak het om op ‘n minimumloon van R6 500 aan te dring.

Die myners beweer die bestuur het hulle toe deur kontrakwerkers vervang.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.