‘Swartes is die vyand’ leer jong seuns op kamp

ʼn “Klein en redelik onbekende regse groep”, die Kommandokorps, leer seuns so jonk as 13 dat swart mense in Suid-Afrika “die vyand” is.

Die Mail & Guardian berig dat die Kommandokorps se instrukteurs die tieners tydens kampe leer om soldate te word en hulle probeer oortuig dat daar ‘n rasoorlog in die land aan die gang is. Die kampleier, Franz Jooste (57), het glo aan hulle gesê hulle gaan regte mans word en dat swart mense minderwaardig is en nie daartoe in staat is om te regeer nie, het die koerant berig. Hy het glo ook gesê dat swart Suid-Afrikaners, behalwe vir inboorlinge in Australië, die “mees onderontwikkelde, barbaarse deel van die mensdom” is. “Wie is my vyand in Suid-Afrika? Wie moor, roof en verkrag? Wie is hierdie kreature? Die swartes,” het die Mail & Guardian hom aangehaal. Terwyl Jooste beweer dit neem hom sowat ‘n uur om enige idees wat die seuns oor ‘n reënboognasie het uit te roei, het hy ook gesê sy doel is nie om hulle in ‘n spesifieke rigting te dwing nie. “Al wat ons wil doen, is om die gevoel wat reeds binne hulle is oor te dra. Ons wil nie hê hulle moet haat nie.”Een van die seuns het voor die kamp aan die koerant gesê hy het gedink mense kom “heel goed” oor die weg in Suid-Afrika en dat rassisme beveg moet word. Ná die tyd het hy gesê daar is ‘n oorlog tussen blankes en swartes en dat baie bloed gaan vloei. ‘n Ander seun het aan die begin van die kamp gesê hy is opgewonde om met sy verfbalgeweer te speel en dat hy nie van rassisme hou nie. Hy het ook twee swart vriende. Aan die einde van die nege dae lange kamp het hy gesê hy is geleer om swart mense te haat, dat hulle almal vermoor wat oor hul pad kom en dat hy sy vriende verwerp het.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.