Swartrenosters val twee wildbewaarders aan

Argieffoto

Twee wildbewaarders is ernstig beseer nadat drie swartrenosters hulle Donderdagoggend in ʼn wildreservaat in KwaZulu-Natal aangeval het.

Musa Mntambo, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse natuurbewaringsdienste (Ezemvelo), het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 09:00 in die Hluhluwe Umfolozi-natuurreservaat naby St. Lucia plaasgevind.

Die twee bewaarders, Z. Khuzwayo en S. Mthembu, was besig met ʼn roetine-patrollie deur die gebied en het onverhoeds op drie renosters afgekom.

“Die renosters het hulle aangeval. Een bewaarder is in die bobeen deurboor en die ander een in die boudspier. Hulle kon daarin slaag om die diere te verjaag,” het Mntambo gesê.

Die bewaarders het hulp ontbied en is na ʼn nabygeleë kamp geneem waar paramedici van Netcare 911 hulle behandel het. Chris Botha, ʼn woordvoerder van Netcare 911, sê die bewaarders is by die kamp gestabiliseer en in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal geneem.

Volgens Mntambo is die mans se lewens buite gevaar en sterk hulle in die Richardsbaai-hospitaal aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.