Swembad weer skoon genoeg

Die vuil Newtonpark-swembad in Port Elizabeth Foto: Ockert de Villiers/SAPA

Die Newtonpark-swembad in Port Elizabeth was teen Donderdagmiddag in ‘n toestand wat vir die Suid-Afrikaanse swemkampioenskap aanvaarbaar was om te hervat.

Twee dae van die ses daglanga gala, wat ook as uitdunrondtes vir hierdie jaar se Fina Wêreldkampioenskap dien, is gekanselleer weens die swak gehalte van die water. Teen Donderdagoggend was die bane, wat op die bodem van die swembad geverf is, weer sigbaar en die helderheid van die water het baie verbeter sedert Maandag, die eerste dag van die kampioenskap.

Die swemrondes was geskeduleer om Donderdagmiddag teen 17:00 weer ‘n aanvang te neem. Daar sal slegs een uitdunronde in elke dissipline wees, en swemmers sal volgens hul tye ingedeel word.

Die watertemperatuur het ook gedaal sedert daar aan die swembad begin werk is, maar ‘n personeellid by die swembad sê dit is nagenoeg 24.8 grade Celsius, slegs een graad kouer as die vereiste hitte.

Van die deelnemers en ouers moes vlugte uitstel en sukkel om alternatiewe akkommodasie te bekom nadat die kampioenskap vir twee dae lank uitgestel is. Akkommodasie was moeilik bekombaar weens die Superrugby-wedstryd tussen die Bulle en die Southern Kings wat Saterdag in Port Elizabeth plaasvind.

“Die federasie het versekering op geleenthede en sal redelike eise, as ‘n gevolg van die uitstel, oorweeg,” het Shaun Adriaanse, hoof uitvoerende beampte van Swem SA, gesê.

Alhoewel die aangepaste program probleme vir swemmers veroorsaak het om vir die wêreldkampioenskap in Barcelona in Julie te kwalifiseer, kan die keuringskriteria aangepas word en swemtye so lank gelede as die Olimpiese Spele in Londen kan gebruik word.

Tot dusver kon slegs een goue medaljewenner, Cameron van der Burgh, vir die wêreldkampioenskap kwalifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.