Swemkampioenskap weer uitgestel

Die vuil Newtonpark-swembad in Port Elizabeth Foto: Ockert de Villiers/SAPA

Die SA-swemkampioenskap in Port Elizabeth is Woensdag weer uitgestel weens die vuil swembadwater.

“Die water in die Newtonpark-swembad was teen 22:00 Dinsdagaand helder, maar het Woensdag weer groen verkleur toe nog ʼn pyp oornag gebars het,” het Shaun Adriaanse, woordvoerder vir Swem SA (SSA) gesê. “Ek was gisteraand twee keer daar en in die vroeë oggendure om die toestand van die swembad te bestudeer, en alles het reg gelyk en die water was helder,” het Adriaanse gesê. “ʼn Voerpyp, wat water na die gebied voorsien, het egter Woensdagoggend gebars. Daar was ʼn paar gevolge, die water het weer verkleur, en aangesien die water nie sirkuleer het nie, het chloor opgebou en ʼn uitwerking op ons swemmers se gesondheid gehad.”

Die tweede dag van die kampioenskap is Dinsdag uitgestel nadat ʼn pyp Sondag by die swembad gebars en die water grasgroen verkleur het. Die watergehalte het Maandag ernstige probleme vir die deelnemers veroorsaak, aangesien hulle nie kon sien waar hulle swem nie, en gesukkel het om by die muur om te draai.

Die organiseerders hoop dat die ses daglange kampioenskap, wat ook as uitdunne dien vir hierdie jaar se Fina Wêreldkampioenskap, Donderdag hervat kan word. Daar sal in elke dissipline slegs een uitdunronde wees en swemmers sal in die finale volgens tyd gemeet word.

“Ons het besluit om die program vir vandag te kanselleer, en ons is in die proses om die program aan te pas,” het Adriaanse bygevoeg. “Ons sal van môre af die deelnemers vir die res van die program volgens hul tye meet en dit is sover ons kan om by die program te kan hou.”

Adriaanse sê die Nelson Mandela Bay-munisipaliteit het reeds maatreëls in plek om water na die swembad deur tenks te herlei. “Ons is natuurlik nie baie gelukkig nie, ons aandeelhouers is nie gelukkig nie, maar dinge gebeur en niemand kon voorsien dat ʼn filtreerpyp sou bars, en dat ʼn voerpyp sou bars nie.”

Myles Brown, die nuwe opkomende swemster, het met 0.25 sekondes net-net uitgemis om vir die 400m-mans vryslag in die wêreldkampioenskap te kwalifiseer, weens die swak watergehalte.

Terwyl die hersiende program uitdagings vir swemmers skep om vir die wêreldkampioenskap in Julie in Barcelona te kwalifiseer, kan die keuringskriteria aangepas word en tye so lank gelede as die Olimpiese Spele kan oorweeg word.

Tot dusver is die Olimpiese goud-atleet Cameron van der Burgh die enigste swemmer wat met ʼn tyd van 1 minuut, 00.71 sekondes, vir die wêreldkampioenskap kon kwalifiseer.

Suid-Afrika se ander goue medalje-wenner by die Olimpiese Spele in Londen, Chad le Clos, het gesê dat, alhoewel die kansellasie van die twee dae frustrerend is, dit hom nie so baie sal beïnvloed nie. “Ons het gekom om van Maandag tot Saterdag te swem, en Cameron is die enigste een wat tot dusver kwalifiseer het. My plek in die span is nog nie gewaarborg nie,” het Le Clos gesê. “Dit sal my nie so veel beïnvloed nie, want as ek nie by die nasionale uitdunne kan wen nie, kan ek nie by die wêreldkampioenskap wen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.