Swemmers gaan glo self vir wêreldkampioenskap moet betaal

Argieffoto

Suid-Afrika se swematlete sal self moet betaal as hulle later vanjaar aan die Fina-wêreldkampioenskap in Spanje wil deelneem.

Beeld het Dinsdag berig Swem SA (SSA) het gesê dat hulle nie genoeg fondse het om die swemmers, waaronder die Olimpiese medaljewenners Chad le Clos en Cameron van der Burgh, Spanje toe te stuur nie, weens Telkom wat in 2012 sy borgskap van R11.5 miljoen aan SSA onttrek het.

Intussen het die SA Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) egter bevestig dat Suid-Afrika se elite swemmers wel in Juliemaand aan die kampioenskappe in Barcelona sal deelneem.

“Saskok sal die koste van alle atlete van sy Opex-program vir die wêreldkampioenskap borg,” het Tubby Reddy, hoof uitvoerende beampte van Saskok, gesê. “Enigiemand in die volgende fase van Opex se uitgawes sal deur Saskok gedek word, maar ander lede van die span sal hul eie kostes moet dek.”

SSA sê dit beteken dat minder bekende atlete moontlik self van die kostes moet bydra indien hulle ook wil deelneem.

Shaun Adriaanse, hoof uitvoerende beampte van SSA, het gesê sowat 85% van die span, wat nie op die Opex-lys is nie, se uitgawes sal deur SSA gedek word. “Atlete sal dus sowat R3 000 elk moet bydra,” het Adriaanse gesê.

Winston Rabotapi, die DA se woordvoerder van sport, het Maandag ʼn beroep gedoen op die regering om in te tree.

Rabotapi het gesê iets is fout in die departement van sport wat miljoene rande kan spandeer op nie-noodsaaklike werksaamhede, maar kwansuis nie geld het om om top atlete na kompetisies toe te stuur nie. “Die departement het in 2011 meer as 60% van sy begroting, wat hy van die nasionale lotery ontvang het, aan ʼn sporttoekenningsgeleentheid spandeer. Dié geleentheid het die departement sowat R46 miljoen uit die sak gejaag,” het Rabotapi gesê. Volgens Rabotapi het die departement nog nie bekendgemaak hoeveel dit gekos het om ʼn afvaardiging na die Olimpiese Spele toe te stuur nie.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.