Sy leer gebaretaal om misdaadslagoffers te help

Kapt. Khomotso Maluleke

Kapt. Khomotso Maluleke het dit op haarself geneem om gebaretaal te leer. (Foto: SAPS)

Vele hande maak ligte werk, lui die uitdrukking.

En in die geval van kapt. Khomotso Maluleke, ʼn forensiese maatskaplike werker verbonde aan die polisie se eenheid vir gesingsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdade, is dit haar vermoë om gebaretaal te gebruik wat mense se lewe verander.

Danksy dié vaardigheid, sê Maluleke, kan sy meer slagoffers help wat by polisiekantore aanmeld om verklarings af te lê.

Sy het besef daar is ʼn groot behoefte aan ʼn beampte wat gebaretaal kan praat nadat sy ʼn dowe slagoffer moes help wat ʼn klag van huisbraak probeer aanhangig maak het.

“Ek het gesukkel om die slagoffer te verstaan. Dit is toe dat ek dit op myself geneem het om gebaretaal te bestudeer om my in staat te stel om die dowe gemeenskap te help en so te verseker dat geregtigheid geskied,” sê Maluleke.

Dié raakvat-polisievrou is tans in haar finale jaar van studies by Wits in Johannesburg.

“Ek wil meer kwesbare gemeenskappe help,” sê Maluleke.

As ʼn maatskaplike werker vir die polisie, kry sy daagliks te doen met kwesbare gemeenskappe.

Sy het al 13 verdagtes in geslagsgeweldsake agter tralies gesit en twee van hierdie verdagtes het lewenslange vonnisse vir verkragting ontvang. Ander is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis weens seksuele aanranding, kindermishandeling en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

“Die meeste kinders word deur hul voogde verhinder om mishandeling aan te meld omdat sommige van die oortreders broodwinners is,” sê Maluleke.

Sy onthou spesifiek ʼn ondersoek na die verkragting van ʼn 13-jarige slagoffer wat ná die aanval swanger geword het. “Om haar in ʼn plek van veiligheid te kry sodat sy kon terugkeer skool toe, was een van my beste prestasies ooit,” sê Maluleke.

Sy het ʼn beroep gedoen op gemeenskappe, om net soos sy elke dag probeer doen, die ekstra myl te stap en geslagsgeweld te pak waar hulle woon en werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Karoo ·

Dankie, dat jy bereid is om jouself te strek buite wat van jou verwag word om die wat nie kan praat nie, nie vir ‘n 2de keer’ n slagoffer te maak nie. Voorspoed met jou studies.

M ·

Sterkte, voorspoed….. en baie dankie. Dalkies binnekort die nuwe Minister van Polisie…..!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.