“Sy was so styf vasgemaak dat sy verwurg en versmoor het”

Die Silver Mist-veiligheidskompleks waar Wiing vermoor is.

ʼn Veiligheidswag en sy vriend is Maandag lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op ʼn Duitse pensioenaris.

Ute Wiing (70) is op 27 Mei 2010 is haar huis in die Silver Mist-veiligheidskompleks in Equestria, Pretoria vermoor. Die hooggeregshof in Pretoria het Amos Mokgabudi (28), wat as veiligheidswag by die kompleks gewerk het, en sy vriend Frans Madiba tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Wiing sowel as 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede. Wiing het versmoor nadat sy erg aangerand is en so styf vasgebind was dat sy nie kon beweeg nie. Daar is ook verskeie stukke klere in haar mond gestop. Waarnemende regter Bert Bam sê dit is duidelik dat Wiing ʼn pynlike en verskriklike dood gesterf het. “Dit was ‘n wrede, bose en barbaarse aanval in die donker van die nag op ‘n weerlose vrou in die relatiewe veiligheid van haar eie huis. Die manier waarop hulle die oorledene behandel het toon daar was geen genade. Sy was so styf vasgemaak dat sy verwurg en versmoor het. Die beserings aan die kant van haar kop en gebreekte ribbes toon dat sy gemartel is. Die oorledene het twee weke voor haar moord haar 70ste verjaarsdag gevier. Dit is ontstellend en baie skrikwekkend dat voorvalle van hierdie aard aan die orde van die dag is en oor ons land voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.