Taai onderhandelinge lê voor by Kamer van Mynwese

Die Kamer van Mynwese se openingsloonaanbod van slegs 4% vir werknemers in die goudbedryf en die feit dat daar na sewe vergaderings nog nie op ʼn dokument oor die ‘huisreëls’ ooreengekom kon word nie, is ʼn aanduiding dat 2013 se onderhandelings by die Kamer uitsonderlik uitdagend gaan wees, het die vakbond Solidariteit Maandag gesê.

Solidariteit eis ’n 10%-verhoging.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het Amcu, nadat daar verlede week op die dokument oor ‘huisreëls’ ooreengekom is, drastiese veranderinge voorgestel wat dit vir die ander partye onmoontlik maak om dit te onderteken. “Dit is ʼn verdere aanduiding van die moeilike onderhandelinge wat voorlê. Dit blyk ook dat Amcu se besluitnemer nie deel van die onderhandelinge is nie, maar dat daar afstandbeheer van buite af is. Die Kamer se inleidende aanbieding vandag skets verder ʼn somber prentjie met sowat 60% van die land se goudmyne wat nie winsgewend is nie, 14 000 werkgeleenthede wat die afgelope twee jaar verlore gegaan het en Suid-Afrika wat vir die eerste keer in 10 jaar nie die wêreld se topgoudprodusent is nie, maar na die sesde posisie afgeskuif het.”

Du Plessis sê ten einde ʼn skikking sonder ʼn staking te bereik, sal daar van werkgewers verwag word om ʼn verhoging bokant die syfer wat begroot is, aan te bied. “Die Kamer sal hul aanbod drasties moet verhoog om die atmosfeer vir ’n skikking te skep. Vakbondlede sal ook ʼn laer as verwagte verhoging moet aanvaar. Die Kamer het ook met omsigtigheid gereageer op vakbonde se ander substantiewe eise. Dit gaan sterk leierskap van beide werkgewers en vakbonde verg om die land se belange eerste te stel en ʼn skikking te bereik wat die goudbedryf weer op die wenpad sal plaas.”

Die volgende vergadering is vir 24 Julie geskeduleer waar die vakbonde op die Kamer van Mynwese se terugvoer sal reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.