TAG hof toe oor “onwettige” e-tol

etolhekke in gautengDie Tolhek-aksiegroep (TAG) bestaande uit die Vryheidsfront Plus, die Transvaalse Landbou Unie van Suid-Afrika (TLU SA) en die Nasionale Belastingbetalers Unie (NBU) is vasbeslote om voort te gaan met die hofsaak om die Wet op Vervoerwette en Verwante Aangeleenthede (ook bekend as die E-Tolwet) ongrondwetlik te verklaar.

Volgens adv. Anton Alberts, TAG-woordvoerder en VF Plus-LP belas met vervoer, is TAG na aanleiding van regsadvies steeds oortuig dat die E-Tolwet ongrondwetlik is, dat die regulasies onwettig uitgereik is en dat die e-tol-aanvangsdatum foutiewelik aangekondig is. “Al hierdie regsfoute sal uiteindelik voor die hof geplaas word vir beregting. Tydens ons dringende aansoek op 3 Desember 2013 het die regter die saak afgewys weens ‘n gebrek aan dringendheid sonder om die meriete van ons saak te beoordeel. Derhalwe sal TAG nou die saak op die gewone hofrol laat plaas,” het Alberts verduidelik. “Voorts sal ons die oorspronklike aansoek van 3 Desember 2013 aanvul met argumente oor verdere foute wat ons opgespoor het in die E-Tolwet en die regulasies.”

Volgens TAG is van die verdere foute as volg:

  • Die toltariefregulasies blyk nie werklike regulasies te wees nie, maar bloot ‘n kennisgewing;
  • Die misdryf in die SANRAL-wet wat nie-betaling van tol kriminaliseer waarna in die regulasies verwys word, is nie toepasbaar op die nie-betaling van e-tolgeld nie. Die rede daarvoor is dat die misdryf vereis dat tol betaalbaar is by enige tolplaza, wat gedefinieer word as enige tolhek self of soos voorgeskryf. Aangesien motoriste nie by die tolhekke self betaling kan aanbied nie, moes dit voorgeskryf gewees het. Dit is egter nooit gedoen nie.

TAG wil ook aan motoriste advies gee aangaande hulle regte op die e-tolpaaie. Van spesifieke belang is die volgende:

  • Rekeninge: TAG oorweeg tans om ‘n hofaansoek te bring om SANRAL te dwing om alle rekeninge te hanteer in lyn met die Wet op Verbruikersbeskerming. SANRAL se gedrag en die regulasies self wemel van foute en stel verskeie ernstige verbrekings van die wet daar. Die VF Plus staan ook individue by wat klagtes wil lê by die Verbruikerskommissie. Meer inligting daaroor kan by www.tolhekpetisie.org.za gevind word.
  • Vervolging: TAG sal enige persoon wat vir nie-betaling vervolg word bystaan in die hof. Daar sal die volgende argumente, onder andere, aangevoer word:
    • dat die E-Tolwet ongrondwetlik is en dat enige vervolging gestaak moet word hangende die uitslag van TAG se hofsaak;
    • dat die regulasies daarop dui dat net geregistreerde gebruikers tolgelde verskuldig is; en
    • dat die misdryf in die SANRAL-wet nie van toepassing is op e-tol nie.

TAG moedig die publiek aan om nie e-skyfies te koop nie, aangesien diegene wat dit doen ‘n kontrak met SANRAL aangaan en dus kontraktueel verplig is om betalings te maak. Daarbenewens bou SANRAL sy eie databasis op om persone te vervolg.

Indien motoriste wel weens vrees van arrestasie betalings maak, sal TAG enige betaalde gelde namens betalers terugeis indien TAG die E-Tolwet ongrondwetlik verklaar kry.

TAG is daartoe verbind om in die openbare belang op te tree en die e-tolstelsel te stop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.