Tahs breek Stormer-harte Doer Onder

‘n Drie in die doodsnikke van die wedstryd deur die sublieme Israel Folau was genoeg om die Waratahs oor die Stormers in Sydney te laat seëvier.

Die eindtelling was 21-15 terwyl die rustydtelling 8-3 in die guns van die tuisspan was. Hierdie uitslag is ‘n verdere vernedering vir Suid-Afrika met die Sharks en Cheetahs wat reeds teen oorsese opposisie vasgeval het.

Die Stormers het soos gewoonlik rotsvas verdedig, maar in ‘n kompetisie waarin bonuspunte van allergrootste belang is, is dit helaas nie genoeg nie. Net soos wat die Kaapse span sommige naweke die hoop laat opvlam dat hulle wel wil aanval, val hulle weer terug op ‘n eendimensionele spelpatroon wat geen drieë oplewer nie.

Al die Stormers se punte is deur middel van Joe Pietersen se skopvoet aangeteken. Dis die Kapenaars se tweede agtereenvolgende nederlaag in Australasië nadat hulle verlede week met een punt teen die Nieu-Seelandse Blues verloor het.

Die Tahs het daarenteen gewys hulle is nie gemaklik met ‘n konserwatiewe spelpatroon nie. Nes verlede week teen die Kings in Port Elizabeth, is hulle op hul beste en gevaarlikste as hulle aanval.

Die tuisspan het in die eerste helfte die vlugflouheid probeer afskud en die Stormers het hulle onder groot druk geplaas en die gebiedsvoordeel en balbesit gedomineer. Desondanks het Cam Crawford ‘n ietwat gelukkige drie gedruk toe Folau dit teruggeklap het.

Pietersen en Brendan McKibbin het die telbord aanhoudend met strafskoppe laat bewe.

Met ‘n paar minute oor en die telling 15-11 in die guns van die Stormers, het die Tahs geloof in hul aanvalsvermoë behou eerder as om strafskoppe te neem en Folau het etlike verdedigers geklop om oor te duik.

Berrick Barnes het sy lang verwagte terugkeer gemaak en het Folau se drie verdoel asook ‘n strafskop op die laaste toeter oorgeklits.

Die Stormers ontmoet die minder gedugte Rebels volgende week in Melbourne. Hulle sal stellig moet vergoed vir al die onverwagte nederlae wat hulle reeds gely het om steeds ‘n aanspraakmaker vir die uitspeelwedstryd te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Die Stormers sal dringend introspeksie moet hou – hul huishouding is glad nie in orde nie en hul afrigting en spanbou-pogings is ‘n mislukking omdat die afrigters nie bekwaam genoeg is nie – dis al !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.