Tahs verneder Kings in PE

Daar is ‘n pakslae en dan is daar ‘n pákslae. Die Kings het vanaand laasgenoemde beleef op hul tuisveld toe hulle met 72-10 deur die Waratahs in die verleentheid gestel is. Die halftydtelling was reeds ‘n enorme 46-10 en die Tahs het in totaal 11 aanskoulike drieë gedruk.

Ofskoon die Waratahs nou eers hul beste vorm bereik het, moet daar indringende vrae oor die Kings se insluiting in die Super15 gevra word.

Nadat hulle twee weke gelede deur die Bulls met 34-0 afgeransel is en laas week ‘n loslootjie gehad het, sou mens dink hulle sou dalk met hernieude vuur speel teen die Tahs. Toe nie. Hulle is in elke faset, selfs op hul veelgeroemde verdediging, behoorlik getroef.

Die tuisspan kan bly wees hul teenstanders het hul voet so effens van die versneller afgehaal in die tweede helfte want anders kon hierdie wedstryd een of ander nuwe punterekord opgelewer het. Die Tahs se skoppers het gelukkig ook nie hul skopskoene aangehad nie want dit kon die besoekers se telling die 80 punt-merk laat verby steek.

Daar was nie eers ‘n minuut verby nie toe die Tahs-vleuel Cam Crawford oorduik vir sy span se eerste drie. Crawford het boonop reeds ‘n driekuns in die eerste helfte behaal en Israel Folau, Kane Douglas, Michael Hooper en Peter Betham het ook die wit lyn oorgesteek.

‘n Strafdoel deur Demetri Catrakilis en ‘n verdoelde drie deur Sergeal Pietersen het die rustydtelling effens beter vir die tuisspan laat lyk.

Die Tahs het in die tweede helfte ewe gevaarlik gelyk en Betham, die Kaptein Dave Dennis, Tom Voluvula en Matt Kingston het agter die doellyn gaan kuier.

Die Stormers moet kennis neem van hierdie wedstryd want hulle ontmoet die Tahs volgende week in Sydney. Die Kings, Suid-Afrika se rugby-owerhede en die rugby-publiek sal ongetwyfeld besin oor die Kings en hul voortgesette insluiting in die Super15 ongeag wat vanjaar nog gaan gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.