Talle beseer, vol verf na PTA-trokongeluk

Motoriste wag buite hul voertuie terwyl hulle wag vir die afrit om weer oopgemaak te word. Foto: @sthembete / Twitter

Nagenoeg 48 mense is beseer nadat ʼn vragmotor Woensdagoggend by die Eeufees-afrit in Pretoria teen ʼn ander voertuig gebots het.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, sê die ongeluk het omstreeks 07:30 plaasgevind. “ʼn Konstruksie-vragmotor met sowat 50 passasiers het teen die steilte teen ʼn ander voertuig gebots. Die remme het vermoedelik onklaar geraak,” het Pieterse gesê.

Die beseerdes het van geringe tot ernstige beserings opgedoen.

Die vragmotor het ook verfkanne vervoer en talle van die beseerdes is met verf besmeer. Die beseerdes is op die toneel gestabiliseer en na verskeie hospitale geneem vir verdere behandeling.

Die Eeufees-afrit op die N14 (Ben Schoeman)-snelweg was tydelik vir verkeer gesluit terwyl die toneel opgeruim is. Die ongeluk het ‘n reuse verkeersopeenhoping in die omgewing veroorsaak. Die afrit is intussen weer vir verkeer oopgemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.