Talle polisiebeamptes pleeg selfmoord

SAPS-keppieDie aantal voorvalle van selfmoord onder polisiebeamptes skets ʼn donker prentjie, het Nathi Mthethwa, minister van die polisie, Dinsdag gesê.

“Ons statistiek toon dat 34 beamptes tussen Januarie en Junie 2013 selfmoord gepleeg het. Dit is ʼn donker prentjie,” het Mthethwa in ʼn toespraak tydens ʼn beraad om selfmoorde te verhoed, gesê.

Mthethwa sê die getal het die polisie gedwing om die stelsels te ondersoek wat polisietrauma hanteer. “Ons ondersoek het bevind dat beamptes selfmoord pleeg deur van hul eie dienspistole gebruik te maak, hulself te hang of om ʼn oordosis pille te drink.”

Swak finansiële bestuur, persoonlike trauma en geestesgesondheid is van die grootste oorsake vir selfmoord. “Die polisie moet soms gruwelike tonele afbaken ná padongelukke waarin onskuldige mense omgekom het. Sommige van die tonele is só erg dat ons dit nie eers hier kan beskryf nie,” het Mthethwa bygevoeg. Hy sê die samelewing moet erken dat polisiebeamptes onder moeilike omstandighede werk. “In baie gevalle is hulle nie emosioneel of sielkundig toegerus om stresvolle situasies te hanteer nie, en dit lei gereeld tot ʼn katastrofiese impak op hul geestesgesondheid.”

Altesaam 73 beamptes het in 2009 selfmoord gepleeg; 97 in 2010; 85 in 2011 en 98 in 2012. Mthethwa doen ʼn beroep op polisiebeamptes om professionele berading te ondergaan wat gratis aan hulle beskikbaar gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gerhard ·

Ek het nou ‘n hele tydjie getwyfel of ek moet kommentaar lewer maar my nuuskierigheid het die oorhand gekry.

Bostaande is ‘n baie hartseer storie, ek was self lid van die Suid Afrikaanse Polisie Diens van 1984 tot 2000.

Punt 1: Ek sal graag wil weet wat is die range van die meerheid lede wat selfmoord pleeg. Is dit lae range of senior offisier?

Punt 2: In die huidige situasie bly ons swart/wit/bruin polisiebeamptes nog steeds in “townships” en word hulle geteiken vir hulle vuurwapens of hulle families word geteiken wanneer hulle by die werk is.

Punt 3: Bogenoemde maak dit ook moeilik vir hierdie lede om “committed” te wees teenoor hulle werk.

JA!!! Daar is nog baie goeie polisiebeamptes daar buite maar hulle sukkel om die stres te hanteer waaronder hulle moet werk. Polisie lede wil ook nie altyd instem vir berading nie want dit gebeur dat hulle uitgelag of woorde toe gesnou word wanneer hulle onder sielkundige behandeling is.

Polisie bestuur moet weer kyk na enkelkwartiere vir ongetroude lede en na polisie “dorpe”, waar lede en families in veiligheid kan lewe. Hier weet die lid dat hy met gerustheid sy werk kan gaan doen en dat sy familie nie geviktimiseer gaan word as hy nie by die huis is nie. Hy weet ook sy eiendom is veilig wanneer daar niemand by die huis is nie.

Finansieele bestuurs opleiding moet ook aan lede veral die laer range verskaf word sodat hulle weet wat is ‘n begroting en hoe om hulle geldsake te bestuur.

Polisie lede sal nooit ophou kla oor hulle salarisse nie, want as jy nie weet hoe om dit te bestuur nie sal jy gedurig meer geld wil he.

Polisie bestuur moet ook by meer Maatskaplike werkers en Sielkundiges aanstel wat makliker beskikbaar is vir die lede. Huidiglik is die diens daar maar nie vrylik beskikbaar nie, lede moet weke of maande wag voor iemand hom/haar kan help met berading.

Dankie

Eben ·

Geen simpatie …. dis deals wat verkeerd geloop het en hulle wil nie dat dit bekend gemaak word! Lot siek spul in polisie.

Lea ·

Ek het persoonlik van iemand in die diens verneem dat die ” Gratis professionele berading” nie so wonderlik is as wat daar voorgegee word nie.
Miskien moet die SAPD hier ‘n regstelling doen vir beter resultate??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.