Talle SA’ners op skepe per boot gerepatrieer

Die Carnival Fascination waarmee die Suid-Afrikaanse bemanning nou na Suid-Afrika vaar. (Foto: Verskaf)

Sowat 600 Suid-Afrikaners wat die laaste paar maande op plesierbote van die Amerikaans-Britse Carnival-korporasie gewerk het, word tans per boot na Suid-Afrika gerepatrieer. Die groep sal na verwagting oor drie weke in Suid-Afrika aankom.

Die Carnival-maatskappy gebruik etlike duisende buitelanders as bemanning op hul plesierbote en hulle moet as gevolg van die Covid-19-pandemie nou na hul lande van herkoms terugkeer.

Dit het skynbaar in ʼn logistieke nagmerrie ontaard, deels omdat dit duur is om in hawens aan wal te gaan en streng gesondheidsregulasies weens Covid-19 tans heers.

Verskeie klein reddingsvaartuie soos die een is gebruik om duisensende bemanningslede te hergroepeer volgens hul lande van herkoms. (Foto: Verskaf)

Van die Suid-Afrikaners het al op 20 April uit Florida in die VSA met die Carnival Breeze vertrek en sou aanvanklik vir tien dae na Southampton in Engeland vaar. Dié reisplan het egter dramaties verander toe die bemanning op die oop see met klein reddingsvaartuie na verskillende ander passasiersbote oorgeplaas is volgens hul lande van herkoms.

“18 Carnival-skepe het in die gebiedswater van die Bahamas bymekaargekom om die bemanning van verskillende lande uit te ruil en nou is daar nege skepe onderweg om die spanne na hul onderskeie lande terug te neem,” het een van die Suid-Afrikaners drie dae gelede op Facebook geskryf.

Die groep het Maroela Media versoek om nie hul name te noem nie omdat werknemers glo gewaarsku is dat hul nie met die media oor hulle wedervaringe mag praat nie. Hulle plaas egter gereeld boodskappe en foto’s van hul onbeplande avontuur op sosiale media, onder meer is daar video-opnames van hul oorplasing na die ander bote op die oop see.

Van die Suid-Afrikaners op een van die reddingsvaartuie terwyl hulle na die Carnival Fascination oorgeplaas word op die oop see. (Foto: Facebook)

Die Britse koerant The Guardian het Woensdag berig dat die president van die Carnival-maatskappy, Christine Duffy, bevestig het dat 18 skepe gebruik is om meer as tienduisend gesonde bemanningslede na Asië, Afrika, Europa, Indië en Latyns-Amerika weer te laat terugkeer. Nie die koerant óf Duffy sê egter iets oor die dramatiese uitruiling van werknemers op die oop see nie.

Volgens The Guardian is meer as 100 000 bemanningslede steeds wêreldwyd op luukse passasiersbote vasgekeer. Sowat 80 000 wag op 120 skepe in internasionale waters naby die VSA om na hul lande van herkoms terug te keer nadat die laaste passasiers reeds ses weke gelede by verskeie hawens aan wal gestap het.

“Dit was tot dusver vir my een van die onvergeetlikste werkkontrakte. Baie sukkel, baie logistieke en nuwe onsekerhede elke dag,” skryf nog een van die Suid-Afrikaners wat na die Carnival Fascination oorgeplaas is, op Facebook. “Ons sien Durban oor drie weke. Baie dankie vir familie en vriende wat daar vir my was en aan God wat in hierdie moeilike tyd na ons omgesien het. Sien julle almal binnekort.”

Dié Fascination vaar tans na Suid-Amerika waar Brasiliaanse kollegas eers afgelaai moet word voordat die trans-Atlantiese vaart na Suid-Afrika kan begin.

Die 18 luukse passasiersbote het op die oop anker gegooi en die duisende bemanningslede is volgens hul lande van herkoms oorgeplaas. (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaners het almal bewyse dat hulle in kwarantyn was en glo hulle sal in Durban aan wal kan stap sonder enige probleme.

Die webwerf Vessel Finder het vanoggend die Fascination se posisie aangedui as Noord van Haïti en onderweg na Groot-Stirrup, een van die Kaaimanseilande in die Bahamas wat privaat besit word deur ʼn Noorweegse maatskappy wat bootvaarte bedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

netekalleen ·

Daar wag n lelike surprise.op.die mense wat dink hulle gaan in redelike okay kearentein geplaas word as mens so na al die stories kyk

Cherokee ·

Twee weke gelede het die luukse MSC Ochestra in Durban vasgemeer en sedert die 22ste van verlede maand is die enigste beweging wat dit maak, slegs die sagte heen en weer wieg, veroorsaak deur die golwe. Beslis slegs die noodsaaklikste personeel aan diens, want in die nagdonker is slegs die onderste vloer se ligte aangeskakel. Dit is nou volmaan en die maan se strale blink op die oop dekke waar die prag en praal in onbruik is. ‘n Weelderige hotel op water waarvan die spog restaurante, kroeë, swembaddens, teaters en speelplekke, nou lê en wag op eendag wanneer dit weer aan passasiers die ervaring van ‘n leeftyd kan bied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.