Talle sterf in Chinese aardbewing

Die aardbewing in Sichuan, China op 20 April 2013

Altesaam 56 mense is dood en minstens 600 mense beseer toe ‘n kragtige aardbewing van magnitude (N\M) 6,6 Saterdag in China se suidwestelike provinsie, Sichuan voorgekom het.

Volgens die amptelike Chinese nuusagentskap is geboue verwoes en het grondverskuiwings voorgekom. Die episentrum van die aardbewing was vlak – slegs 12,3 kilometer ondergronds wat die skade vererger. Die aarde beleef nou glo ‘n seismies- aktiewe periode met verskeie groot aardbewings wat in ‘n betreklike kort tyd voorgekom het.

Sedert die groot skudding van M7,8 op die grens tussen Iran en Pakistan, het ‘n skudding van M7,2 die Russiese Kuril-eilande getref wat ook in die noorde van Japan gevoel is. Kort tevore was daar ‘n grote in Rusland naby die grens waar Noord-Korea ‘n kerntoets uitgevoer het. Daar was vanjaar reeds agt aardbewings wêreldwyd van M7 of meer, met ‘n skudding van M8 by die Solomon-eilande wat die sterkste was.

Volgens die Amerikaanse USGS was daar die afgelope week wêreldwyd sowat 300 beduidende aardbewings.Hieronder tel ‘n aardbewing van M5 in Uganda, ‘n “swerm” ligte aardbewings naby Oklahoma City, en ‘n ligte skudding van M3.1 in die Baai van San Francisco.

Vanjaar is vermoedelik reeds meer as 150 mense in aardbewings dood, wat sterftes weens ‘n tsunami by die Santa Cruz-eilande insluit. Die meeste sterftes het in twee afsonderlike aardbewings in Iran voorgekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.