Talle stroom na Durban-strande

Argieffoto

Argieffoto

Ondanks gure weersomstandighede het meer as 400 000 mense Durban se strande op Kersdag en Welwillendheidsdag bygewoon.

“Ongeveer 402 260 mense het verskeie strande in die omgewing besoek,” het Thabo Mofokeng, woordvoerder vir die Ethekwini-munisipaliteit, gesê. “Dit is ʼn toename van ongeveer 120 000 in vergelyking met dieselfde periode in 2012.”

Lewensredders moes 102 mense van verdrinking red. Niemand het nog sedert die aanvang van die feesgety by dié strande verdrink nie.

Sowat 365 kinders is na die munisipaliteit se kinderfasiliteit geneem nadat hulle van hul ouers geskei is. Altesaam 363 kinders is weer met hul ouers of versorgers herenig. Die polisie en die munisipaliteit se Veiliger Stede is versoek om die twee oorblywende kinders by te staan en hul ouers op te spoor.

Senior superintendent Eugene Msomi, woordvoerder vir die metropolisie, doen ʼn beroep op publieke vervoer om passasiers af te laai en dan na die betrokke parkeergebiede te ry.

Hy sê alkohol mag nie na strande gebring word nie en enigiemand met alkohol sal in hegtenis geneem word.

“Sedert die begin van die feesgety is 200 motoriste vir verskeie oortredings in hegtenis geneem. Padblokkades sal al hoe meer regdeur die stad opgerig word in die oploop tot Oujaarsaand,” het Msomi gesê.

Volgens die stad se munisipale wetgewing mag vuurwerke slegs tussen 23:45 op 31 Desember en 00:15 op Nuwejaarsdag afgevuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.