Talle winkels wil nie meer krewe verkoop nie

Die verkope van kreef by sekere restaurante en winkels word bevraagteken, aangesien stropery glo tot ‘n afname in die kreefpopulasie lei, het die Sunday Times berig.

“Ons is op die randjie van ‘n afgrond,” het John Duncan, marienebestuurder by die World Wildlife Fund (WWF), aan die koerant gesê. “Ons aantal rotskrewe, die rigting van ons beleid oor en die vermoë om die wet te monitor en tot uitvoering te bring beweeg in ‘n negatiewe rigting.”

Justin Smith, hoof van volhoubaarheid by Woolworths, het gesê die maatskappy oorweeg tans of hulle steeds kreef moet aanhou. “Ons oorweeg dit om die verkope van die produk uit te faseer, nadat ons ‘n gesprek met bewaringskenners gehad het,” het Smith aan die koerant gesê.

Food Lover’s Market hou nie meer Weskus-kreef aan nie, weens die afname in die getal krewe.

Daniel Evans, algemene bestuurder van die restaurantgroep Cape Town Harbour House, het gesê die koste van kreef neem toe. “Die prys styg gereeld,” het hy gesê.

Die koerant berig dat stropery glo toeneem weens probleme met die departement van landbou, bosbou en vissery se patrollievloot. Dennis Fredericks, waarnemende departementshoof het egter aan die Sunday Times gesê dat ‘n kontraktuele dispuut met die kusmoniteringsdiens opgelos is. Die departement is egter glo nie in staat om presies te bepaal hoeveel krewe tussen Maart en Junie gevang is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.