Tandarts gebruik skuifspelde in wortelkanale

ʼn Voormalige tandarts van Massachusetts in die VSA is Maandag tot een jaar tronkstraf gevonnis nadat hy glo skuifspelde in plaas van vlekvrye staalpennetjies in wortelkanale gebruik het.

Dr. Michael Clair het vroeër die maand skuldig gepleit op ʼn aantal klagte insluitend aanranding, bedrog ter waarde van $130 000, onwettige voorskryf van medisyne en intimidasie van ooggetuies. Aanklaers het gesê dat Clair soms glo gedeeltes van skuifspelde in wortelkanale gebruik het in ʼn poging om kostes te bespaar. Sommige van sy pasiënte het infeksies en ander probleme aangemeld.

Brenda Almeida het gesê haar tienerseun se tand het swart verkleur en moes verwyder word nadat Clair ʼn wortelkanaal in 2005 gedoen het. Sy sê Clair het ook treurige tandheelkundige werk op haar twee ander kinders gedoen. Almeida, wat in die hof was toe Clair gevonnis is, is ongelukkig oor die uitspraak wat sy as ʼn “ligte straf” bestempel. “Hy het my kinders vir maande lank pyn laat verduur… Ek hoop hy vergaan daar,” het sy gesê nadat regter Richard Moses Clair een jaar tronkstraf opgelê het. Die staatsaanklaer het ʼn minimum van vyf tot sewe jaar tronkstraf versoek.

Volgens Martha Coakley, prokureur-generaal vir Massachusetts, het Clair die Medicaid-skema vir vlekvrye staalpennetjies faktureer en het vals eise onder ander tandartse se praktyknommers ingedien. Clair se prokureur, John Dingee, wou nie kommentaar lewer nie. Moses het Clair tot 2½ jaar tronkstraf gevonnis met een jaar opgeskort. Clair se lisensie om tandheelkunde te bedryf is reeds in 2006 in Massachusetts opgeskort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.