Tariewe-kennisgewing vir e-tol is glo onregmatig

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Vrydag, as deel van die organisasie se amptelike kommentaar op die tariewe-kennisgewing rakende tolheffings op Gautengse hoofweë, wat op 24 Mei in die staatskoerant gepubliseer is, ʼn regsmening by die departement van vervoer ingedien wat aandui dat die tariewekennisgewing onregmatig is.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wys sy organisasie se regsmening onder meer daarop dat artikel 27(1) van die SANRAL-wet bepaal dat tolgelde betaal moet word deur ’n persoon wat ’n voertuig “bestuur” of “gebruik”. Die e-tolstelstel, ingevolge waarvan ʼn voertuigeienaar en nie die bestuurder daarvan nie, vir tolgeld geregistreer word, val volgens Kriel dus buite die raamwerk van die wet.

Kriel het ook daarop gewys dat ander dele van die tariewekennisgewing gebaseer is op wetswysigings wat nog nie deur die president onderteken is en in die staatskoerant gepubliseer is nie. “Die tariewekennisgewing het dus nie ʼn wetlike basis nie en is onregmatig,” het Kriel gesê.

AfriForum se volledige regsmening is by www.afriforum.co.za beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarie van Niekerk ·

Vandat daar met die e-tolstelsel begin is, is alles nog onregmatig gedoen. Sanral het hulle nog in geen stadium van die hele projek daaraan gestuur of enigiets regmatig of wettig is nie. Hulle is in ‘n hoek gedruk deur die ongelooflike kontrak wat met die oorsese maatskappy aangegaan is ingevolge waarvan hulle jaarliks miljoene der miljoene rande aan die maatskappy moet betaal en hulle weet nie hoe om hul onwettige verpligtinge na te kom nie. Hulle het die motoriste van die eerste oomblik af belieg en doen dit steeds

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.