Taxi-sleep: Adv. bedank publiek vir ondersteuning

Kim McCusker en haar verloofde Lourens Grobler. Foto: Facebook

Die Johannesburgse advokaat wat in September verlede jaar deur ʼn taxi omgery en honderde meters ver gesleep is, het die publiek bedank vir hulle ondersteuning.

Kim McCusker (26) het op haar ondersteuningsgroep op Facebook geskryf: “Dit is met dankbaarheid dat ek my waardering uitspreek vir jul besorgdheid, belangstelling, ondersteuning en gebede oor die afgelope paar maande sedert die taxi-voorval. Alhoewel dit ʼn lewensveranderende gebeurtenis vir my en my geliefdes was, is ek dankbaar om te leef hoewel dit my fisies erg leed besorg het. Ek het besluit om die voorval te gebruik om my positief te motiveer en ek is meer as ooit vasbeslote om suksesvol te wees in dit wat ek graag wil bereik en alles wat ek aanpak. Ek sterk goed aan en hoop om so gou as moontlik terug te keer na normaal. Ek ontvang steeds twee keer per week intensiewe fisioterapie om weer normaal te kan beweeg en ek moet binnekort ʼn knie-operasie ondergaan. Ek is steeds gereeld in pyn en verduur ongemak, maar dit is stadigaan besig om al hoe minder te word en ek hoop dat dit ook spoedig iets van die verlede sal wees. Weereens, baie dankie. Goed gaan.”

McCusker en haar verloofde, Lourens Grobler, se troue wat aanvanklik vir 11 Februarie beplan is, is tot 26 Mei uitgestel. McCusker is op 13 September deur ʼn taxi omgery en sowat 700m ver gesleep. Die taxibestuurder wat McCusker glo omgery het, Matome Thamage (30), is vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat. Thamage het glo amper in McCusker en Grobler se motor vasgery. Thamage beweer hy het van die toneel probeer vlug nadat Grobler hom glo aangerand het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.