Taxi-sleep: Adv. gee eerste treë na ongeluk

Kim McCusker en haar verloofde, Lourens Grobler. Foto: Facebook

Die Johannesburgse advokaat wat vroeër vanjaar deur ʼn taxi omgery en meters ver gesleep is, het haar eerste treë gegee na die voorval wat meer as twee maande gelede plaasgevind het.

Kim McCusker is op 13 September deur ʼn taxi omgery en sowat 700m ver gesleep. McCusker se suster, Julia, het op ʼn Facebook-groep ter ondersteuning van haar suster, gesê dat sy verlede week vir die eerste keer sedert die voorval gemobiliseer is. Julia sê haar suster kon daarin slaag om ʼn paar treë te gee met behulp van krukke. Volgens Julia het Kim ook haar laaste veloorplanting gehad. McCusker moes vroeër onder meer veloorplantings aan haar voete en elmboë ondergaan. Julia sê sodra dit genees sal sy weer gemobiliseer word. Sy sê haar suster is ook nie meer op so baie pynmedikasie nie en ontvang steeds fisioterapie. McCusker het vroeër die maand haar 26ste verjaarsdag in die waakeenheid van die Fourways-hospitaal gevier.

Die taxibestuurder wat McCusker glo omgery het, Matome Thamage (30), is vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat. Thamage het glo amper in McCusker en haar verloofde, Lourens Grobler, se motor vasgery. Thamage beweer hy het van die toneel probeer vlug nadat Grobler hom glo aangerand het. Grobler het ook vroeër in die hof verskyn en is ook op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hy word aangekla van aanranding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.