Taxi-sleep: Adv. maak ‘goeie vordering’

Kim McCusker en haar verloofde Lourens Grobler. Foto: Facebook

Die Johannesburgse advokaat wat deur ʼn taxi omgery en meters ver gesleep is, het volgens haar familie goeie vordering gemaak sedert sy sowat ʼn maand gelede uit die hospitaal ontslaan is.

Kim McCusker is op 13 September deur ʼn taxi omgery en sowat 700m ver gesleep. Sy is eers op 24 November uit die Fourways-hospitaal in Johannesburg ontslaan nadat sy verskeie veloorplantings aan onder meer haar voete en elmboë ondergaan het. Kim se suster Julia het op ʼn Facebook-groep, ter ondersteuning van haar suster, gesê Kim kan nou sonder krukke loop hoewel nog nie 100% normaal nie. Sy sê die familie is tans op vakansie by die see en Kim gaan voort om haar daaglikse oefeninge te doen. Kim sal voortgaan met fisioterapie wanneer sy terug in Johannesburg is. Julia sê haar suster was vir kort rukkies saam hulle op die strand hoewel sy altyd in die koelte moes bly. Sy sê Kim het gevra dat sy almal bedank vir hulle gebede en wense.

Die taxibestuurder wat McCusker glo omgery het, Matome Thamage (30), is vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat. Thamage het glo amper in McCusker en haar verloofde, Lourens Grobler, se motor vasgery. Thamage beweer hy het van die toneel probeer vlug nadat Grobler hom glo aangerand het. Grobler het ook vroeër in die hof verskyn en is ook op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hy word aangekla van aanranding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.