Taxi-sleep: Adv. uit hospitaal ontslaan

Kim McCusker en haar verloofde, Lourens Grobler. Foto: Facebook

Die Johannesburgse advokaat wat meer as twee maande gelede deur ʼn taxi omgery en meters ver gesleep is, is uit die Fourways-hospitaal ontslaan.

Maroela Media het verlede week berig dat Kim McCusker (26) vroeër haar eerste treë gegee het na die voorval wat op 13 September plaasgevind het. McCusker se suster Julia het op ʼn Facebook-groep, ter ondersteuning van haar suster, gesê Kim is Donderdag uit die hospitaal ontslaan en sal nou tuis deur haar ma versorg word. Julia sê Kim is baie opgewonde om terug te keer huis toe na haar gesin en verloofde, na sy vir twee en ʼn half maande in die hospitaal was. McCusker het verskeie veloorplantings ondergaan aan onder meer haar voete en elmboë. Julia sê haar suster sal nou op haar rehabilitasie konsentreer. Die McCusker-gesin het die publiek bedank vir hulle gebede en ondersteuning sedert die voorval. McCusker is op 13 September deur ʼn taxi omgery en sowat 700m ver gesleep. McCusker het vroeër die maand haar 26ste verjaarsdag in die waakeenheid van die Fourways-hospitaal gevier.

Die taxibestuurder wat McCusker glo omgery het, Matome Thamage (30), is vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat. Thamage het glo amper in McCusker en haar verloofde, Lourens Grobler, se motor vasgery. Thamage beweer hy het van die toneel probeer vlug nadat Grobler hom glo aangerand het. Grobler het ook vroeër in die hof verskyn en is ook op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hy word aangekla van aanranding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.