Taxi-sleep: McCusker ondergaan nóg veloorplantings

Kim McCusker en haar verloofde Lourens Grobler.

Die Johannesburgse advokaat wat sowat ʼn maand gelede deur ʼn taxi omgery en meters ver gesleep is, sal Vrydag nog ʼn veloorplanting ondergaan.

Kim McCusker het verlede week veloorplantings aan albei haar elmboë ondergaan. Vel van haar bobeen is na albei elmboë oorgedra en die proses blyk tot dusver suksesvol te wees. Daar is ook reeds veloorplantings op haar een voet gedoen terwyl die ander voet Vrydag gedoen sal word. McCusker se suster, Julia, sê Kim is steeds van die ventilator af, kry daagliks fisioterapie en is steeds in isolasie in die waakeenheid van die Fourways-hospitaal. Sy sê Kim vorder goed maar dat sy wel gefrustreerd is aangesien sy al langer as ʼn maand in die hospitaal is. McCusker het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die publiek te bedank vir hulle ondersteuning en gebede vir haar suster en familie.

Die taxibestuurder, Matome Thamage, het McCusker op 13 September omgery en meters ver gesleep. Thamage het tydens ʼn vorige hofverskyning gesê hy het probeer wegkom aangesien McCusker se verloofde, Lourens Grobler, hom glo aangerand het. Thamage word aangekla van poging tot moord en roekelose en nalatige bestuur. Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat en verskyn weer volgende maand in die hof. Grobler is ook vroeër die maand op borgtog van R5 000 vrygelaat en sal weer op 28 Oktober in die hof verskyn. McCusker se ondersteuningsgroep op Facebook het intussen gegroei tot meer as 17 500 mense.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.