Taximan skuldig aan moord ná kinders sterf in gru-ongeluk

Jacob Humphreys tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

‘n Taxibestuurder is Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuldig bevind op 10 aanklagte van moord en vier van poging tot moord.

Jacob Humphreys is kort ná die uitspraak na die aanhoudingselle geneem nadat sy borgtog van R20 000 teruggetrek is. Humphreys (55) van Devonpark, Eerste­rivier, is daarvan beskuldig dat hy in Augustus 2010 waarskuwingseine by ‘n spooroorgang in Blackheath verontagsaam het, waarna ‘n aankomende trein sy taxi getref het. Tien kinders is in die ongeluk dood en vier beseer. Nege kinders is op die toneel dood. Nog een is op 27 Augustus in die hospitaal oorlede. Humphreys is ook in die hospitaal opgeneem nadat ’n rib een van sy longe in die ongeluk deurboor het. Humphreys het tydens die verhoor volgehou dat hy nie kan onthou wat gebeur het nie. Familie en vriende van die oorledenes -Liesl August (11), Cody Erasmus (15), Jody Phillips (13), Reece Smith (7), Nolan February (13), Michaelin de Koker (11), Jason Pedro (14), Nadine Marthinissen (16), Jeane-Pierre Willeman (13) en Jade Adams (10) – het buite die hof in trane uitgebars en mekaar omhels. Humphreys sal in Februarie gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.