Taximan wat vrou glo omry en meters ver sleep vandag in hof

Kim McCusker en haar verloofde Lourens Grobler. Foto: Facebook

Die taxibestuurder wat na bewering ʼn Johannesburgse advokaat omgery en meters ver gesleep het, sal na verwagting Woensdag aansoek doen om borg in die Randburg landdroshof.

Matome Thamage (30) word aangekla van poging tot moord en roekelose en nalatige bestuur. Thamage is verlede week Dinsdag in hegtenis geneem na die voorval. Kim McCusker en haar verloofde, Lourens Grobler, was glo onderweg na die gimnasium toe die taxi teen hulle bakkie gebots het. Hulle het glo uitgeklim om die taxibestuurder se besonderhede te kry toe hy weggejaag het en McCusker omgery en honderde meters ver gesleep het. Thamage beweer hy het weggejaag nadat Grobler hom glo aangerand het. Grobler het homself later aan die polisie oorgegee en is Maandag op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hy word aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer en kwaadwillige saakbeskadiging. McCusker is intussen steeds in die hospitaal. Sy is die naweek van die ventilators afgehaal en kon met haar familie kommunikeer. Volgens ʼn vriend van die familie is McCusker vroeër die week weer geopereer en was sy in baie pyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.