Taximan wat vrou sleep, het glo kind raakgery

Kim McCusker en haar verloofde Lourens Grobler. Foto: Facebook

Die polisie in Gauteng kon nie berigte bevestig dat die taxibestuurder wat ʼn Johannesburgse advokaat omgery en meters ver gesleep het, sowat twee maande gelede ʼn 7-jarige seun raakgery het nie.

ʼn Polisiewoordvoerder, ao. Balan Muthan, sê hulle is nie bewus van die voorval nie. Beeld berig Matome Thamage (30) het in ʼn beëdigde verklaring aan ʼn regsfirma, wat die Padongelukkefonds verteenwoordig, erken dat hy op 19 Julie vanjaar vir Omphemetse Mathobela in Diepsloot raakgery het. Volgens die beëdigde verklaring het Thamage hom raakgery en na ʼn nabygeleë brandweerstasie geneem waar sy oupa hom kom haal het. Die seun is in die Kalafong hospitaal in Atteridgeville opgeneem. Volgens Thamage se verklaring het die polisie nooit die saak ondersoek nie hoewel hy dit aangemeld het. Thamage word aangekla van poging tot moord en roekelose en nalatige bestuur nadat hy Kim McCusker omgery en meters ver gesleep het. Hy is verlede week op borgtog van R5 000 vrygelaat. McCusker se verloofde, Lourens Grobler, is ook verlede week op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hy word aangekla van aanranding en kwaadwillige saakbeskadiging. Thamage beweer Grobler het hom aangerand en dat hy om die rede van die toneel probeer vlug het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.