Taxivereniging help nuwe buurt- en plaaswagpatrollies

Elliot-buurtwag se sektorleiers Foto: AfriForum

Elliot-buurtwag se sektorleiers Foto: AfriForum

Nog ‘n foto volg onderaan die berig. Die burgerregte-organisasie AfriForum het begin met die eerste buurt- en plaaswagpatrollies in en om Elliot in die Oos-Kaap. Die veiligheidsnetwerk is op die been gebring ná die afgelope maand se wrede moord op ʼn bejaarde egpaar van Barkly-Oos nie ver van Elliot nie.

“AfriForum bemagtig gemeenskappe om self die oë en ore in en om hulle dorpe te wees, dit is al hoe ons misdaad doeltreffend gaan beveg,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapveiligheid gesê.

Volgens Cameron is Elliot se gemeenskap reg om saam te werk en die dorp te beveilig. Die tak is ook genader deur die Elliot-taxivereniging wat nou saam patrolleer en help met misdaadbekamping. Die taxi’s bied ook bystand vir veiligheid op plase en het ʼn goeie verstandhouding met rolspelers van die buurt- en plaaswag.

Die buurtwag het gisteraand tydens hul tweede patrollie op huisrowers afgekom. Die polisie is dadelik in kennis gestel en al die vermeende rowers is in hegtenis geneem. Die gesteelde items is deur die Elliot-taxivereniging aan die gesin teruggegee.

Cameron het verduidelik dat hierdie ’n perfekte voorbeeld is van hoe doeltreffend ’n veiligheidsnetwerk kan wees.

AfriForum meen dat die regering misluk met misdaadbekamping regdeur die land. Statistiek is nie akkuraat nie en misdadigers is besig om gewone Suid-Afrikaners te terroriseer. Die organisasie raai alle gemeenskappe aan om self veiligheidstrukture te begin om te verseker dat misdaad bekamp word.

“Ons implementeer nou veiligheidsplanne regoor Suid-Afrika en waar moontlik tree ons in samewerking met die SAPD op. Die polisie op plaaslike vlak se hande is dikwels afgekap omdat bestuur op nasionale vlak nie die nodige ondersteuning bied nie,” het Cameron verder verduidelik.

AfriForum het vroeër die maand gevra vir die bedanking van die minister van polisie, Nathi Mthethwa oor sy onbevoegde besluite rondom polisiëring in die land.

Om by AfriForum aan te sluit, SMS jou dorp se naam na 31336. SMS/50c.

Elliot se doeltreffende taxivereniging besorg die gesteelde goedere terug

Elliot se doeltreffende taxivereniging besorg die gesteelde goedere terug

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maderyn ·

Ian, ek wil graag weet hoe mens te werk moet gaan om buurt- en plaaswagpatrollies in jou eie dorp te begin. Ek is woonagtig net buite Kokstad op ‘n plaas. Ek het nog nie by AfriForum aangesluit nie. Ek is so dankbaar om te sien dat daar nog mense is wat omgee en ons boere se belange op die hart dra. Dankie AfriForum! Dankie ook aan Maroela Media.

Ian Cameron ·

Hi Maderyn.

Baie dankie vir jou boodskap. Ons moet net bevestig of daar al ‘n AfriForum tak in Kokstad is en bepaal hoe ons dan kan help om die struktuur op die been te bring. Stuur gerus vir my ‘n e-pos dan gesels ons oor wat julle behoeftes is.

AfriForum pas elke stelsel aan om uniek te wees by die spesifieke gemeenskap.

Julle moet ‘n wonderlike naweek he.

Ian Cameron
Hoof: AfriForum Gemeenskapveiligheid
[email protected]

Wessel van Vuuren ·

Dis goed om te sien dat ‘n taxi-vereniging bereid is om te help. Al bestuur sommige van hulle ook hoe roekeloos is dit goed dat hulle ook moeg is vir die misdaad in die land en hulle deel wil bydra. Mag dit ‘n voorbeeld stel aan ander taxi verenigings om dieselfde te doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.