“Te vet” vir ‘n vliegtuig, skip en trein

Kevin Chenais

Kevin Chenais

Kevin Chenais van Frankryk is deur vliegtuie, treine en selfs ʼn passasiersboot afgekeur omdat hy glo “te vet” is om te reis.

Chenais (22), wat 230 kg weeg, sê sy reisplanne is die afgelope twee weke telkens afgekeur in ʼn poging om van Amerika na Frankryk terug te keer. P&O Ferries het intussen aangebied om hom Woensdag met ʼn ambulans aan boord die Spirit of Britain huis toe te neem.

“Ek is baie moeg,” het hy in sy elektriese rystoel gesê net voordat hy in die ambulans geklim het.

Chenais se ma is glo ontstoke oor die behandeling wat haar seun na bewering ontvang het en gesê daar word teen hom gediskrimineer weens sy gewig. “Dis nie my seun se skuld dat hy so groot is nie. Dit is ʼn genetiese afwyking,” het Christina Chenais gesê. “Ons is dankbaar om na dié traumatiese voorval huis toe te gaan.”

British Airways het aanvanklik geweier om sy retoerkaartjie van Amerika aan hom toe te ken. Hy het maande lank in Amerika vertoef om mediese behandeling te ontvang vir ʼn hormoonwanbalans.

Die lugredery het bevestig dat hy Chenais toegang verbied het, maar wou weens vertroulikheidsredes nie die rede hiervoor verskaf nie.

Carnival Cruises het glo ook sy versoek vir ʼn kajuit op ʼn passasiersboot geweier. Die maatskappy wou nie kommentaar lewer nie.

Virgin Atlantic-lugredery het aangebied om hom na Londen te vlieg, vanwaar hy met die Eurostar-trein sou huis toe keer. Maar Eurostar het ook geweier om hom aan boord toe te laat weens veiligheidsmaatreëls vir die reis deur die kanaaltonnel. Die hoëspoedtrein wat Engeland aan Frankryk en België verbind, vereis glo dat alle passasiers veilig moet kan ontruim. Weens Chenais se gewig beskik hy nie oor die vermoë om beweeglik genoeg te wees om vinnig te kan ontruim nie.

“Dit is ʼn vreeslike situasie,” het Eurostar in ʼn verklaring gesê. “Ons is jammer vir mnr. Chenais en sy gesin wat desperaat is om huis toe te gaan.” Eurostar het vir die gesin se hotelverblyf betaal en saam met P&O gewerk om ʼn oplossing te kry.

“Dis moeilik om te begryp watter frustrasie dit vir dié man moes wees,” het Chris Laming, woordvoerder vir P&O, gesê. “Maar vir ons is dit voor die hand liggend. Ons is gereed om enigiemand met mediese behoeftes by te staan.”

Die veerbootmaatskappy het Chenais en sy gesin Woensdag oor die Engelse kanaal na Calais geneem. Sy tuisdorp, Ferney-Voltaire, is sowat 740 km verder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peter Says ·

Mmmmm, hier is n paar in ons land wat ook met dieselfde probleem gaan sit.

Somerset (Sommie) Morkel ·

Dit bly ‘n gewigtige probleem vir alle rolspelers in die drama…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.