Teater-‘Oscars’ op pad na Pretoria

Die derde jaarlikse kykNET Fiëstas, in volksmond beter bekend as “die Oscars van Afrikaanse teater”, word vanjaar die eerste keer in die ikoniese staatsteater in Pretoria aangebied.

Dié toekennings word op Donderdag, 21 Maart oorhandig en vereer die beste Afrikaanse kunstenaars en produksies wat in 2012 hul debuut op kunstefeeste oor die land heen gemaak het. Aan die stuur van die geleentheid, wat beloof om ’n onvergeetlike glansaand te wees, is die teaterikoon Ian von Memerty.

“Vanjaar se kykNET Fiëstas gaan ’n affêre wees wat lank onthou sal word,” sê Karen Meiring, kanaalhoof van kykNET. “Met Ian von Memerty in die regissseurstoel, en die staatsteater as tuiste vir dié swierige aangeleentheid, sien ons uit na ’n aand waarop daar op ’n gepaste manier hulde aan die land se uitstaande Afrikaanse produksies en talent gebring word.”

Dis ook nie net die sterre wat met ’n Fiësta huis toe gaan nie; dié toekennings is ook ’n viering van die spanne wat ágter die skerms werk, met Fiëstas wat vir lewenslange bydraes in verskillende kunsvorms soos musiek, teater en letterkunde oorhandig sal word.

Verlede jaar is die wêreldberoemde sopraan, Mimi Coertze, met ‘n Fiësta vir haar lewenslange bydrae tot musiek vereer, terwyl die produksies Rooiland en Lot saam met sewe Fiëstas weggestap het, onder meer dié vir beste nuwe Afrikaanse produksie en beste produksie onderskeidelik.

Die Fiëstas-benoemings sal op 25 Februarie 2013 om 19:30 op kykNET bekend gemaak word.

Kaartjies om hierdie jaar se kykNET Fiësta by te woon sal by Computicket beskikbaar wees. Volg kykNET op Facebook vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.